Swem in Doha: SA swemmers in die agtergrond

Pieter Coetzé (Foto: SEBASTIEN BOZON/AFP)

Dit het voorheen ook al gebeur dat ʼn Suid-Afrikaanse swemspan swak op ʼn Wêreldkampioenskapsreeks of belangrike byeenkoms vaar, maar homself dan regruk vir die Olimpiese Spele.

Vanjaar se Spele (swem) word in Julie en Augustus in Parys gehou en as alles volgens plan verloop, sal die swemmers weer die land se fakkeldraers en hoop op medaljes wees.

Hou maar vir Pieter Coetzé, Matthew Sates, Chad le Clos, Tatjana Schoenmaker-Smith, Lara van Niekerk en Erin Gallagher dop, dalk pluk hulle ʼn haas uit die spreekwoordelike hoed.

Maar te oordeel na die huidige Wêreldkampioenskapsreeks in Doha, is dit geen goeie kleedrepetisie nie.

Suid-Afrika, wat maar ʼn klein span na Doha gestuur het, kom boonop sonder Schoenmaker-Smith klaar. Tot dusver het die span nog net een bronsmedalje gewen toe Coetzé derde in die 200 m-rugslag geëindig het.

Suid-Afrika is saam met ʼn rits ander lande slegs 23ste op die medaljetabel met die byeenkoms wat Sondagaand eindig.

Saterdagaand kon Le Clos en Gallagher nie die podium van hul onderskeie eindrondes haal nie.

Le Clos het vyfde in die eindronde van die 100 m-vlinderslag in ʼn tyd van 51.48 geëindig. Die resies is deur die nuwe Portugese superster Diogo Matos Ribeiro gewen in ʼn tyd van 51.17 sekondes. Simon Bucher van Oostenryk was tweede (51.28), met Jakub Majerski van Pole derde (51.32). Hy is gevolg deur Nyls Korstanje (Nederland) in ʼn tyd van 51.32 en dan Le Clos.

In die eindronde van die 50 m-vlinderslag vir vroue het Suid-Afrika se Gallagher vierde geëindig. Die 30-jarige Sarah Sjoestrom van Swede het die goue medalje gewen in ʼn tyd van 24.63 sekondes. Melanie Henique van Frankryk was tweede (25.44), gevolg deur Farida Osman van Egipte (25.67).

Van Niekerk (30.28) het die vierde vinnigste tyd in die uitdunne van die 50 m-borsslag aangeteken.

Italië se Benedetta Pilato (29.98) was vinnigste, gevolg deur Qianting Tang van China (29.93) en Rita Meylutute van Litaue (30.05), gevolg deur Van Niekerk.

Coetzé het die derde vinnigste tyd in die halfeindronde van die 50 m-rugslag aangeteken, met die eindronde wat Sondagaand beslis word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.