Swem: Le Clos sal moet uithaal en wys by die wêreldbeker

Chad le Clos. Foto: AP Photo/Michael Sohn

Die eerste been van FINA se 2018 Wêreldbeker is verlede naweek in Kazan, Rusland, aangebied en verskeie byeenkomsrekords het in die slag gebly.

Vanjaar is dit reeds die 30ste aanbieding van dié Wêreldbeker-reeks wat in 1988 begin is en die totale prysgeld beloop vanjaar byna R35 miljoen.

Die tweede been van die Wêreldbeker word van Donderdag 13 tot Saterdag 15 September in Doha aangebied. Die wêreldbeker-reeks bestaan uit 7 bene met die laaste been wat eers in November in Singapoer sal plaasvind.

Chad le Clos jaag vanjaar sy vyfde reekstitel. Op die punteleer is Le Clos egter vyfde met 30 punte en hy sal in Doha moet uithaal om nie verder agter te raak nie. Die voorloper is Vladimir Morozov van Rusland wat spog met 54 punte. Anton Chupkov (Rusland) is tweede met 48, Michael Andrew (VSA) derde met 42 en Mitchell Larkin (Australië) is vierde met 36.

Chad le Clos het in Rusland een goue medalje en twee silwermedaljes losgeswem. Le Clos het goud in die 200 m-vlinderslag (1:56.58) gewen asook silwer in die 100 m-vlinderslag (52.00) asook in die 200 m-vryslag (1:48.10).

Die ander drie Suid-Afrikaners (Ryan Coetzee, James Dhooge en Max Kieser) kon nie by die eerste byeenkoms medaljes verower nie. Ryan Coetzee het in die 100 m-vlinderslag asook in die 100 m-vryslag sy persoonlike beste tye aangeteken alhoewel hy nie ʼn medalje kon wen nie. Max Kieser was vyfde in die 100 m-vryslag. James Dhooge kon egter nie vir die eindronde kwalifiseer nie.

Behalwe die vier Suid-Afrikaners wat in Rusland in aksie was, sal Carina Brand ook in Doha haar staal toon.

Gegewe die feit dat daar agt Wêreldbeker-byeenkomsrekords by die eerste been verbeter is, wag daar ʼn reeks soos min op swemondersteuners.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.