Swem: So naby en tog so ver vir Coetzé en Van Niekerk

Pieter Coetzé (Foto: SEBASTIEN BOZON/AFP)

Twee vierde plekke! Dit was die effense hartseerverhaal van die Suid-Afrikaanse swemspan op die laaste aand van Wêreldswembyeenkoms in Doha.

Pieter Coetzé het in die eerste item van die aandsessie vierde in die 50 m-rugslag vir mans geëindig.

Coetzé, wat Vrydag Suid-Afrika se enigste medalje (brons) in die 100 m-rugslag gewen het, was derde vinnigste in die halfeindronde, maar hy is Sondag deur Isaac Cooper van Australië (24.13), Hunter Armstrong van Amerika (24.33) en Pole se Ksawery Masiuk (24.44) uitgestof.

Coetzé, wat ʼn swakker reaksietyd as die drie medaljewenners gehad het, was vierde in ʼn tyd van 24.59.

In die tweede eindronde van die aand het Suid-Afrika se Lara van Niekerk ook vierde in die vroue se 50 m-borsslag geëindig.

Die goue medalje is deur die 26-jarige Ruta Meylutute van Litaue gewen in ʼn tyd van 29.40.

Die 19-jarige Chinees Qianting Tang was tweede (29.51) met Italië se Benedatta Pilato derde (30.01) gevolg deur Van Niekerk (30.47).

Met net een medalje in die sakkie sal dit in sekere kringe as teleurstellend beskou word, slegs ʼn paar maande voor die Olimpiese Spele in Frankryk.

Maar die byeenkoms was ook ʼn kleedrepetisie vir die Spele.

Daarom was die vertonings van Coetzé en Van Niekerk, Erin Gallagher (vierde in die 100 m-vlinderslag) en Chad le Clos (vyfde in die 100 m-vlinderslag) glad nie te versmaai nie.

Neem ook maar in gedagte dat die land se voorste vroue-swemmer Tatjana Schoenmaker-Smith nie in Doha deelgeneem het nie aangesien sy al haar aandag fokus op haar voorbereiding vir Parys.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.