Swierige Swiatek swaai tennissepter

Iga Swiatek. Foto: Twitter.

Al weet mens nie veel van Iga Swiatek se akademiese vaardighede nie, is daar ’n moontlikheid dat sy nogal van geskiedenis kan hou… want sy is waaragtig lief daarvoor om haar naam in die tennisrekordboeke te verewig.

Die 19-jarige het vandag die nuutste Franse Ope-kampioen geword toe sy die VSA se Sofia Kenin met 6-4 en 6-1 ore aangesit het. In die proses het sy nie net die eerste Poolse speler geword om ’n Grand Slam-titel te wen nie, maar sy het ook die jongste speler geword om op Roland-Garros te wen sedert ’n 16-jarige Monica Seles in 1992 met die louere weggestap het.

Swiatek, wat in die vorige rondes reeds haar staal teen Eugenie Bouchard en Simona Halep gewys het, het sommer vroeg in die eerste stel met 3-0 voorgeloop.

Maar Kenin is nie verniet die huidige Australiese Ope-kampioen nie en binne ’n japtrap was die telling weer 3-3.

Sy het egter later met haar afslane begin sukkel, terwyl Swiatek op haar beurt weer met haar bestendigheid beïndruk het om die eerste stel binne 50 minute met 6-4 te wen.

Foto: Twitter.

In die tweede stel het Kenin se dyspier haar probleme begin gee en Swiatek het slim gespeel deur die Amerikaner op die baan rond te jaag.

Hoewel Kenin die eerste pot gewen het, was die skrif aan die muur toe sy kort daarna die baan vir mediese behandeling moes verlaat. Van daar af was dit eenrigtingverkeer en Swiatek het die beslissende stel op ’n drafstap met 6-1 gewen.

Vandag brand die vreugdevure hoog in Warskou; daar is immers tennisbloubloed in hul midde!

  • Die spelers se pad na die eindstryd:

Sofia Kenin:

3-6, 6-3 en 6-2 teen Ana Bogdan

6-0 en 6-2 teen Irina Bara

2-6, 6-2 en 6-1 teen Fiona Ferro

6-4, 4-6 en 6-0 teen Danielle Rose Collins

6-4 en 7-5 teen Petra Kvitova

Iga Swiatek:

6-1 en 6-4 teen Hsieh Su-wei

6-3 en 6-2 teen Eugenie Bouchard

6-1 en 6-2 teen Simona Halep

6-3 en 6-1 teen Martina Trevisan

6-2 en 6-1 teen Nadia Podoroska

  • In môre se manseindstryd speel Rafael Nadal teen Novak Djokovic.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.