Switserse natuurprag kry Federer-bemarkingskrag

Roger Federer. Foto: Twitter.

Roger Federer, wenner van 20 Grand Slams en een van wêreldtennis se grootste sterre, gaan nou sy deel doen om Switserse toerisme ’n hupstoot te gee.

Die 39-jarige speler sal in samewerking met Switserland se toerismeraad (ST) poog om meer toeriste na die land te lok.

Die span sal onder meer poog om met inisiatiewe vorendag te kom om die land op die internasionale verhoog te bemark; iets wat broodnodig is nadat die wêreldwye Covid-19-pandemie die toerismesektor ’n reuseknou gegee het.

“Dit is die perfekte kombinasie. Switserland en sy ongerepte natuur het ongetwyfeld tot Roger se ongelooflike tennisloopbaan bygedra,” het Martin Nydegger, uitvoerende hoof van die toerismeraad, gesê.

Op sy beurt is Federer opgewonde oor die vennootskap.

“Wanneer ek op die baan stap, verteenwoordig ek Switserland. Dit is iets waarop ek baie trots is en om hande met die toerismeraad te vat was ’n maklike besluit,” het Federer gesê.

Die vergoeding wat hy vir sy optredes as toerisme-ambassadeur ontvang, sal aan sy liefdadigheidsorganisasie geskenk word. Hy het juis verlede jaar ongeveer R18 miljoen geskenk om hulpbehoewende Switserse gesinne tydens die Covid-19-pandemie by te staan.

Federer se ma, Lynette, is ’n Suid-Afrikaner en dié land het ook ’n spesiale plek in sy hart.

Hy het tydens sy Match in Africa-inisiatief R45 miljoen vir liefdadigheid ingesamel, terwyl hy terselfdertyd saam met Rafael Nadal die rekord vir die meeste ondersteuners nóg by ’n tenniswedstryd verbeter het.

Amper 52 000 geesdriftige tennisliefhebbers het die liefdadigheidswedstryd verlede jaar in Kaapstad bygewoon.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.