
Carlos Alcaraz en Rafael Nadal. Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP.
Carlos Alcaraz is ongetwyfeld die kroonprins van Spaanse tennis.
Die 19-jarige speler tel onder die tien beste tennisspelers ter wêreld, terwyl hy ook al met ’n gesogte titel huiswaarts gekeer het.
In vandag se kwarteindstryd van die Madrid-ope lê die ervare Rafael Nadal en wag; die koning van die kleibaan wat nie sommer sal handdoek ingooi nie.
Toegegee, Alcaraz is die jongste speler ooit om vir ’n Madrid-kwarteindstryd te kwalifiseer, maar Nadal speel deesdae met net soveel wysheid as krag; die taktiese meester wat steeds met sy houespel beïndruk.
“Rafa is die beste speler ooit op klei. Hy het reeds vyf keer met die louere in Madrid weggestap en hy is beslis die gunsteling om ons wedstryd te wen, selfs al sê hy nie so nie,” het Alcaraz gesê.
Die 35-jarige Nadal het weer eens sy veggees in sy vorige wedstryd teen David Goffin ten toon gestel.
Die Belgiese speler het in alle waarskynlikheid gedink dat hy na die volgende ronde sou deurdring nadat hy die tweede stel gewen het en ’n lekker voorsprong in die beslissende stel opgebou het, maar Nadal het met ’n stewige eindpoging vorendag gekom om die kragmeting uiteindelik met 6-3, 5-7 en 7-6 te wen.
Alcaraz is maar net te bewus van die tennismeester se veerkragtigheid.
“Ek sê altyd dat Rafa oor 1 000 lewens op die tennisbaan beskik. Hy vind altyd ’n manier om ’n wedstryd te wen, selfs wanneer dinge teen hom tel.”
Nadal vier amper sy 36ste verjaardag en hy moes onlangs weer sy pad ná ’n ribbesering oopveg. Tog was hy in sy noppies met die Goffin-kragmeting: ’n Wedstryd van meer as drie uur is net wat die fiksword-dokter voorgeskryf het.
“Tennisliefhebbers hou dalk ook van my, maar ek weet dat hy die meeste ondersteuning in ons wedstryd sal geniet. Rafa bly maar Rafa,” het Alcaraz erken.
In vandag se ander kwarteindstryd-wedstryde speel Novak Djokovic teen Hubert Hurkacz, terwyl Stefanos Tsitsipas ook vir Andrey Rublev sal aanvat. Laastens is Alexander Zverev en Felix Auger-Aliassime in aksie.