Tafel is gedek vir ‘n titaniese stryd tussen Rafa en Kyrgios

Australië se Nick Kyrgios (25 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Lee Jin-man)

Dit is die vingeraflek-lekker waarvan die Australiese tennis-ondersteuners droom.

In die een hoek was die humeurige, maar uiters talentvolle Australiër, Nick Kyrgios, wat Saterdag in Melbourne tot die vierde ronde van die Australiese Ope deurgedring het. Hy het Karen Kachanov van Rusland in ‘n marathonstryd, wat vier en ‘n halwe uur geduur het, met 6-2 7-6(7/5) 6-7(6/8) 6-7(7/9) 7-6 (10/8) uitgeskakel.

In die ander hoek was die Spaanse matador Rafael Nadal wat oor sy Spaanse landgenoot Pablo Carrena Busta gespoel het en hom met 6-1 6-2 6-4 geklop het. Nadal het 27 wenhoue geslaan, net sewe ongedwonge foute begaan en sy oorwinning as een van sy bestes beskryf.

Komende van ‘n speler wat reeds met 19 Grand Slams spog, is dit ‘n hele mondvol.

Spanje se Rafael Nadal (25 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Dita Alangkara)

Nadal het ook sy rekordgetal seges oor sy Spaanse landgenote tot 18 opgestoot en die laaste Spanjaard wat hom kon klop, was in 2016 in die Australiese Ope toe Fernando Verdasco hom teen alle verwagting in in die eerste ronde uitgeskakel het.

Nadal en Kyrgios het verlede jaar in Wimbledon kragte gemeet toe Nadal in vier stelle gewen het.

Wees maar verseker dat die manewales van Kyrgios, toe hy in die tweede ronde met Nadal se fieterjasies gespot het, die Spanjaard se bloed laat oorborrel. Maar, ‘n groot maar, Nadal kon nog net een Australiese Ope, in 2009, wen. Kyrgios loop ook met 2-1 op harde bane voor, hoewel Nadal ‘n klein wenvoorsprong van 4-3 geniet.

Van die ander jong Turke het die Duitser Alexander Zverev, die Belg Dominic Thiem, Danill Medvedev van Rusland, Gail Monfils van Frankryk en Stan Wawrinka, ‘n voormalige Aussie-kampioen van Switserland, ook tot die vierde ronde deurgedring.

Medvedev het die mees indrukwekkende van hulle vertoon en hou hom maar dop. Hy lyk dalk soos ‘n vaal seun wat sy diensplig in die Russiese weermag doen, hy dra ‘n langerige broek, maar boeta, hy kan speel. Hy slaan goed af, beweeg baie goed, hou van lang houeverwisselings en sy temperament is prima, wat tuishoort by dié van ‘n kampioen.

Rusland se Anastasia Pavlyuchenkova (25 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Dita Alangkara)

* In die afdeling vir vroue, is die tweede gekeurde Karolina Pliskova van die Tsjeggiese Republiek en die vyfde gekeurde Eliva Svitolina van Oekraïne, op pad huis toe.

Pliskova is deur die Rus Anastasia Pavlyuchenkova met 7-6(7/4) 7-6(7/3) geklop en Svitolina is deur ‘n tweemalige Grand Slam-kampioen, Garbine Muguraza van Spanje met 6-2 6-1 oorrompel.

Muguraza kom in die vierde ronde teen die negende gekeurde Nederlander Kiki Bertens te staan, wat die eerste keer in die vierde ronde speel nadat sy Zarina Diyas van Kazakstan met 6-2 7-6 uitgeskakel het.

Daar was ook goeie oorwinnings vir Simoina Halep (Roemenië), Angelique Kerber (Duitsland) en Anet Kontaveit (Estland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.