Talentvolle Lenize mik na 100 toetse vir Proteas

Foto: Verskaf.

Lenize Potgieter is bekend vir haar akkuraatheid in die doelsirkel; hetsy vir die Proteas op die internasionale verhoog of vir die Adelaide Thunderbirds in Australië se Suncorp-liga.

Net nou die dag was sy in die kol met 36 van haar 37 pogings in ’n Suncorp-wedstryd teen die Sunshine Coast Lightning.

“Die geheim is eintlik om nie dinge te oordink nie. Ek kry die bal, draai, gooi en hoop vir die beste,” was haar doodeerlike antwoord toe sy oor haar sukses as doelspeler gepols is.

Natuurlik bid sy ook voordat die wedstryd begin – sommer daar in die doelsirkel.

“Nie dat ek 100% moet skiet nie, maar eerder dat God my sal help om op só ’n wyse te speel dat ek die talent wat Hy vir my gegee het vir ander kan wys.”

Die Statebondspele is om die draai en nadat sy die vorige skouspel in 2018 met ’n besering misgeloop het, is sy oorgehaal om haar vaardighede in Birmingham uit te stal.

“Dis altyd vir my die lekkerste toernooi op die internasionale kalender en ek sal beslis deel van die span wil wees.”

Dit is juis haar droom om Suid-Afrika in 100 toetse te verteenwoordig, terwyl sy ook graag in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in die Kaap wil speel.

Foto: Verskaf.

Soos wat sy in haar vorige onderhoud met Maroela Media gesê het: “Ek wil een van die beste doelspelers ter wêreld word.”

Sy glo dat haar avonture in Australië beslis ’n rol in haar ontwikkeling as speler speel.

“Ek dink die Suid-Afrikaanse spelers wat bevoorreg is om oorsee te speel, kan daarvan getuig dat ons spel ’n hupstoot gekry het. Ander spelers baat ook hierby omdat ons die kennis en ervaring wat ons opgedoen het, wil oordra om die sport in die land te bevorder.”

Potgieter het al vantevore oor die belangrikheid van internasionale sportsterre se geestesgesondheid gepraat. Indien ’n speler hiermee sukkel, is die ondersteuning van sy/haar spanmaats van groot waarde.

Foto: Verskaf.

“’n Span is net so goed soos sy swakste skakel en wanneer jy  as mens ’n minder goeie dag het, gaan dit die hele span beïnvloed. Ons probeer dan altyd om so doeltreffend moontlik te kommunikeer sodat dinge uitgesorteer kan word.”

Terselfdertyd glo sy dat ’n balans in die lewe van groot belang is; jou netballoopbaan duur immers nie vir altyd nie.

“Jy moet iets kry wat vir passie weg van die sport sorg, anders beland jy in ’n donker plek wat ek vir niemand toewens nie.”

Nodeloos om te sê, het sy ’n baie sterk ondersteunersbasis – van spanmaats tot vriende. Sy sonder egter haar ouers – Evert en Heleen – uit.

“Hulle het alles binne hul vermoë gedoen sodat ek kan netbal speel. Hulle is my grootste ondersteuners en ek wil hulle net trots maak.”

En danksy haar hardwerkendheid en puik vaardighede maak sy nie net haar ouers trots nie, maar ook die ondersteuners van elke span vir wie sy speel – in Suid-Afrika en Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.