Tennis: Alcaraz het wêreld aan sy voete

Spanje se Carlos Alcaraz (7 Mei 2022) (Foto: Pierre-Philippe Marcou/AFP)

Die Spanjaarde en die tenniswêreld sit behoorlik regop nadat die nuwe wonderseun van tennis, Carlos Alcaraz, die eerste speler ooit geword het om Rafael Nadal en Novak Djokovic in dieselfde toernooi op ʼn kleibaan te klop.

Alcaraz het hierdie week 19-jaar oud geword en hy ryg die rekords in. Hy was die jongste speler ooit wat die halfeindstryd van die Madrid Ope kon bereik. Sy opponent in gister se halfeind, Novak Djokovic, was toevallig die oudste ooit. Alcaraz se oorwinning met 6-7 (5/7), 7-5, 7-6 (7/5) maak ook van hom die jongste speler in 17 jaar wat daarin kon slaag om die wêreld se voorste speler te klop.

Alcaraz het reeds ʼn droom-aanloop tot sy negentiende verjaarsdag gehad en speel in sy tweede ATP-meesterseindstryd in vyf weke. Hy is onoorwonne in nege agtereenvolgende wedstryde nadat hy die Barcelona Ope gewen het.

Alcaraz kom in vandag se eindstryd teen die 25-jarige Duitser Alexander Zverev te staan. Hy het Stefanos Tsitsipas 6-4, 3-6, 6-2 geklop in ʼn wedstryd wat eers in die vroeë oggendure vanoggend klaargemaak het.

Die tweede gekeurde Zverev was die kampioen in Madrid in 2018 en 2021. Hy het ook beide sy vorige wedstryde teen Alcaraz gewen.

Die vraag is of Alcaraz na die hoogtepunt om Nadal en Djokovic in twee dae te klop sy fokus kan behou om die heelwat jonger Zverev te troef. Zverev aan die ander kant speel nie net teen Alcaraz nie, hy speel ook teen die hele Spaanse skare wat hulle vuurvreter wonderseun met die trofee in sy hande wil sien.

Vandag se eindstryd begin 18:30 Suid-Afrikaanse tyd.

In die vroue-toernooi in Madrid het Ons Jabeur van Tunisië die Amerikaner Jessica Pegula in ʼn wipplank-eindstryd 7-5, 0-6, 6-2 geklop. Jabeur word daarmee die eerste Arabiese of Afrika-vrou om ʼn WTA 1000-toernooi te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.