Tennis: Amerikaanse Ope begin Maandag

Kevin Anderson het al in die finaal van die Amerikaanse Ope gespeel. (Foto: Twitter Kevin Anderson).

Indien die fiksheid lekker saamspeel, sal drie Suid-Afrikaners in aksie wees wanneer die Amerikaanse Ope Maandag in New York begin.

Suid-Afrika se voorste enkelspelspeler, Kevin Anderson, is 16de gekeur in die mansenkelspelafdeling. Die 32-jarige Anderson se seisoen is tot dusver deur beserings in die wiele gery en hy sal teen die 16-jarige Amerikaner Zachary Svajda in die eerste ronde te staan kom.

Svajda is tans wêreldwyd in die 1 410de posisie.

Lloyd Harris sal as ’n ongekeurde speler in aksie wees. Hy sal egter eers weet wie sy teenstander is nadat vandag se kwalifiserende wedstryde afgehandel is.

Laastens sal Raven Klaasen en sy Nieu-Seelandse dubbelspelspanmaat, Michael Venus, een van die spanne wees om geklop te word in hul toernooi.

  • Intussen is die mansenkelspelloting op só ’n wyse gedoen dat die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, waarskynlik teen Roger Federer in die halfeindstryd sal speel.

Dié twee was juis vroeër in ’n epiese tweestryd in die Wimbledon-eindstryd gewikkel.

“Daardie eindstryd teen Roger was een van die opwindendste wedstryde waarin ek nog gespeel het. Dit het my ’n hele rukkie geneem om weer my mojo ná die tyd terug te kry,” het Djokovic gesê.

Die wenner van die halfeindstryd sal dan waarskynlik teen Rafael Nadal in die eindstryd te staan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.