Tennis: Geen keer aan Swiatek

Iga Swiatek (Foto: CHANDAN KHANNA/AFP)

Die 20-jarige Pool Iga Swiatek het haar posisie as die nuwe nommer een op die wêreldranglys behoorlik gevier deur die Miami Ope op ʼn drafstap te wen. Sy het Naomi Osaka van Japan 6-4, 6-0 van die baan af gevee.

Osaka het in die wedstryd wat net 80 minute geduur het, nie ʼn enkele breekpunt gehad nie.

Daarmee het Swiatek die sogenaamde “Sonskyn-dubbel” behaal deur die groot toernooie by Indian Wells en Miami te wen. Sy is die jongste en net die vierde vrou wat albei in dieselfde jaar kon wen. Sy sluit nou aan by groot name soos Steffi Graf, Kim Clijsters en Victoria Azarenka.

Swiatek beleef ʼn droomjaar en het nou 17 agtereenvolgende wedstryde gewen. Sy is ook die gunsteling om, soos in 2020, weer die Franse Ope te wen. Klei is haar gunsteling speeloppervlak.

Voormalige nommer een Osaka kan minstens moed skep dat sy weer op topvlak kan meeding. Sy het verlede jaar ʼn blaaskans gevat weens geestesgesondheidsprobleme. Osaka is ook by Indian Wells in trane weg nadat ʼn toeskouer haar tydens ʼn wedstryd in die tweede ronde lastig geval het.

Vandag se manseindstryd by die toernooi is tussen die nuwe 18-jarige Spaanse ster Carlos Alcaraz en die sesde gekeurde Casper Ruud.

Alcaraz het die agste gekeurde Hubert Hurkacz met 7-6 (7/5) en 7-6 (7/2) geklop in die halfeindronde. Ruud het tot die eindstryd deurgedring deur die Argentyn Francisco Cerúndolo met 6-4 en 6-1 ore aan te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.