Tennis: Groot hartseer want die goue driemanskap se era loop uit

Roger Federer. (Foto: AP Photo/Andy Brownbill)

Vanjaar se 50ste Amerikaanse Ope-toernooi in New York spog met nuwe bane en selfs name vir die bane. Wat egter dieselfde gebly het, was die name van die voorste spelers wat ingeskryf het om die laaste Grand Slam-titels van die jaar te probeer losslaan.

Die laaste vyftien jaar se manstoernooie is wêreldwyd deur drie spelers oorheers. As die statistikusse reg is, het Roger Federer (20), Rafael Nadal (17) en Novak Djokovic (13) saam 50 Grand Slam-titels tussen hulle drie gewen. Wanneer mens die sommetjie maak, het hulle dus vir meer as twaalf jaar al vier die Grand Slam-titels verower (in totaal en nie in agtereenvolgende jare nie).

Spanje se Rafael Nadal. (Foto: Ettore Ferrari, AP)

Die hartseer saak vir toeskouers is dat die goue driemanskap se era besig is om uit te loop. Ouderdom haal almal in. Federer speel reeds nie meer in al die toernooie nie om sy lyf te spaar. Hy het ook nie die kwarteindstryd vanjaar op Flashing Meadow gehaal nie. Daar is ook die afgelope tyd beserings gewees wat Nadal en Djokovic gepla het. Een ding bly staan soos ʼn paal bo water: wat ʼn voorreg was dit nie om dié drie spelers vir byna twintig jaar in aksie te sien nie.

Novak Djokovic. (Foto: AP Photo/Michel Euler/ wire.africannewsagency.com)

In die vroue-enkelspel kan die vraag oor die wisselvalligheid van spelers maar net nie 100% verduidelik word nie. Die eerste gekeurde, Simona Halep, was sommer in die eerste ronde deur ʼn totaal onbekende speler huis toe gestuur. Die waarheid van sake is dat daar in vanjaar se kwarteindwedstryd net twee (uit agt) spelers is wat in die toptien op die ranglys was. Hulle was (3) Sloan Stephens en (8) Karolina Plíšková. Die ander spelers se ranglysposisies was 14, 17, 19, 20 en as jy gedink het 30 is hoog, was daar nog boonop die ongekeurde Tsurenko.

Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat ʼn voorspelling selfs in die halfeind, waar daar net vier spelers oor is, gevaarlik is. Op die dag van die eindstryd kan enige een van die twee spelers wat op die baan stap, met die titel wegstap.

Die vroue-eindstryd word Saterdagaand Suid-Afrikaanse tyd gespeel terwyl die mans Sondag op die baan sal wees.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.