Tennis: Harris deur na derde ronde by Indian Wells

Lloyd Harris (September 2021) (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Lloyd Harris, die 26ste gekeurde speler by vanjaar se Indian Wells-meesterstoernooi, is deur na die derde ronde. Hy het die Spanjaard Alejandro Davidovich 6-3, 6-3 geklop. Sy volgende teenstander is die gevaarlike Casper Ruud van Noorweë. Ruud is sesde gekeur vir die toernooi.

In ander wedstryde in die mansafdeling het die Brit Daniel Evans (18) die veteraan Kei Nishikori van Japan 4-6, 6-3 en 6-4 uitgeboender. Die eerste gekeurde Rus Daniil Medvedev is steeds op koers nadat hy die Amerikaner Mackenzie McDonald 6-4, 6-2 uitgeskakel het. Ander bekendes wat ook tot die derde ronde deurgedring het, is Grigor Dimitrov (23), Reilly Opelka (16), Denis Shapovalov (9) en Diego Schwartzman (11).

Die Amerikaner Frances Tiafoe het sy landgenoot en 32ste gekeurde Sebastian Korda verras en hom 6-0, 6-4 geklop.

Kevin Anderson kom vanaand in die tweede ronde teen die 17de gekeurde Italianer Lorenzo Sonega te staan.

In die vroue-afdeling is die eerste gekeurde Tsjeg Karolína Plíšková deur na die derde ronde. Die vyfde gekeurde Garbiñe Muguruza van Spanje was nie so gelukkig nie. Die Australiër Ajla Tomljanovic het haar 6-3, 1-6, 6-3 geklop. Die Amerikaner Amanda Anisimova het die 30ste gekeurde Camila Giorgi van Italië 6-4, 6-1 huis toe gestuur.

Coco Gauff (15), Barbora Krejcíková (3), Danielle Collins (22), Ons Jabeur (12) en Anett Kontaveit (18) is van die ander vroue wat reeds tot die derde ronde deurgedring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.