Tennis: Harris klop Shapovalov in Miami

Lloyd Harris. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris het die talentvolle 12de gekeurde Kanadees Denis Shapovalov 6-3 en 6-4 geklop om na die derde ronde van die Miami Ope in die VSA deur te dring. Dis die derde keer in die afgelope 13 maande dat Harris hom klop.

Harris kom nou in die ronde van 32 spelers teen die Japannees Yoshihito Nishioka te staan. Hy het die 24ste gekeurde Brit Dan Evans 3-6, 6-4 en 6-3 geklop.

Die topgekeurde Daniil Medvedev het die 34-jarige Skot Andy Murray ook in skoon stelle, 6-4 en 6-2, uitgeknikker. Medvedev kan weer nommer een op die wêreldranglys wees as hy die halfeindronde in Miami kan bereik. Murray het weer vir tennislegende Ivan Lendl by sy afrigtingspan betrek met die hoop dat hy vanjaar by Wimbledon ʼn impak kan maak.

Die Griek Stefanos Tsitsipas het die Amerikaner met die groot afslane, JJ Wolf, in drie taai stelle geklop. Die telling was 6-4, 6-7 (5/7) en 6-1.

Die jong Amerikaner Sebastian Korda het die 32ste gekeurde Albert Ramos van Spanje 4-6, 7-6 (8/6) en 6-3 uitgeskakel. Die Serwiër Miomir Kecmanovic het verras deur die sewende gekeurde Felix Auger-Aliassime van Kanada 6-4 en 6-2 te trap.

In die derde ronde van die vroue-afdeling het die negende gekeurde Amerikaner Danielle Collins die veteraan Vera Zvonareva 6-1 en 6-4 uitgeskakel. Ons Jabeur van Tunisië is ook deur na die volgende ronde. Die agste gekeurde Jabeur het vir Kaia Kanepi 6-3 en 6-0 huis toe gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.