Tennis: Israel skok Suid-Afrika in Davis-beker

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash / Ben Hershey)

Suid-Afrika bly in Groep 2 van die Davis-beker nadat Israel die span gister met 3-1 geklop het.

Ná die eerste dag was die telling 1-elk, maar die tuisspan het homself oortref en Daniel Cukierman en Jonathan Erlich het die hoog aangeskrewe Lloyd Harris en Raven Klaasen in die dubbelswedstryd met 7-6 (7/3), 3-6 en 6-3 in die Toto Hakiriya Ashdod-arena geklop.

Met die telling 2-1 in Israel se guns, was dit Harris se kans om sake gelykop te maak. Die Suid-Afrikaner is 32ste op die jongste wêreldranglys, maar die 22-jarige Yshai Oliel, nommer 351 in die wêreld, kon nie ʼn voet verkeerd sit nie en het Harris met 6-3 en 6-4 geklop.

Suid-Afrika se kaptein, Christo van Rensburg, het gesê hy meen hulle was die beter span, maar het tog geleenthede deur hul vingers laat glip. Hy sê Israel het beter as die Suid-Afrikaners gespeel en dit was net nie hul dag nie.

In die wêreldgroep het Alex de Minaur en Thanasi Kokkinakis die knoop deurgehak vir Australië. Hulle het Hongarye met 3-2 geklop. Suid-Korea was met 3-1 baas teen Oostenryk.

Frankryk het maklik met 4-0 met Ecuador afgereken.

Die Spanjaarde Roberto Bautista Agut en Carlos Alcaraz was te sterk vir Roemenië en klop hulle met 3-1.

David Goffin het waardevolle punte vir België ingesamel en sy land kon Finland met 3-2 klop.

In Den Haag het Nederland ʼn verswakte Kanadese span met 4-0 afgeransel.

Jannik Sinner en Lorenzo Sonego het hul omgekeerde enkelspelwedstryde gewen om Slowakye met 3-2 te klop.

Kazakstan was met 3-1 baas teen Noorweë en Swede klop Japan met 3-2. Argentinië het die Tsjeggiese Republiek met 4-0 uit die pad gevee. Die Duitser Alexander Zverev het die wenpunt aangeteken in sy span se oorwinning van 3-1 oor Brasilië.

Die Amerikaners het Colombië in die eerste drie wedstryde geklop om te kwalifiseer vir die volgende ronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Israel is onder God se beskerming onder wie se beskerming is RSA?