Tennis: Nadal in die spervuur en ses vroue kan nommer een wees

Spanje se Rafael Nadal. (Foto: Ettore Ferrari, AP)

Die tweede Grand Slam van die jaar, die Franse Ope, begin Sondag in Parys. Die wêreld se topspelers sal vir twee weke lank sake op Roland Garros uitspook om dié gesogte titel.

In die mansenkelspel sal oë op Rafael Nadal, die koning van die kleibaan wees. Nadal is weer nommer een in die wêreld en is ook eerste gekeur vir die toernooi. Die ander spelers sal alles insit om Nadal te verhoed om weer met die titel weg te stap. Nadal het onlangs teen Dominic Thiem in die Madrid-kwarteindstryd vasgeval.

Duitsland se jong Alexander Zverev is tweede gekeur en hy is die speler wat vir Nadal behoorlik opdraande gegee het in hul vorige ontmoeting. Die ander topgekeurdes is Marin Čilić, Grigor Dimitrov en Juan Martín del Potro. Suid-Afrika se Kevin Anderson (32 jaar oud) is sesde gekeur vir die toernooi en vaar vanjaar besonder goed op klei.

In die dubbelspel sal Raven Klaasen (nou reeds 35 jaar oud) sy talent as nommer 31 op dubbelranglys uitstal. Klaasen en sy spanmaat Michael Venus is tans agtste in die wedloop na Londen. (Die puntetabel vir dubbelspelpare vir 2018) Dit is ’n goeie aanduiding dat hulle ’n kans staan om die kwarteindstryd te haal.

In die vroue-enkelspel is daar ses vroue wat ’n kans staan om die voorste plek op die wêreldranglys in te neem ná afloop van die toernooi in Parys. Indien die huidige topspeler in wêreld, Simona Halep, die halfeindronde haal, sal sy steeds die eerste plek beklee.

Die grootste teenstand vir Halep (verlede jaar se finalis) sal kom van Caroline Wozniacki, Garbiñe Muguruza, Elina Svitolina, Karolina Pliskova en Caroline Garcia. Al vyf die spelers staan ook ’n kans om die eerste plek op die wêreldranglys te beklee afhangend van hul prestasies in Parys.

Die toernooi skop Sondag 27 Mei af wanneer die eerste wedstryde in die hoofloting gespeel word. Die eindstryd vir die mans word op 10 Junie afgehandel.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.