Tennis: Reën speel baas in Barcelona

Die tenniswedstryd tussen Diego Schwartzman van Argentinië en Pablo Carreno Busta van Spanje is tot ‘n halt geroep weens die reën (Foto: Sportskeeda Tennis, Twitter)

Deurdringende reën het Saterdag in Barcelona die laaste sê gehad toe net sowat 20 minute se spel in die halfeindrondes van die Barcelona-Ope moontlik was.

In die mansenkelspel van dié tennistoernooi was die telling tussen Diego Schwartzman van Argentinië en Pablo Carreno Busta van Spanje 2-2 toe daar halt geroep is.

In die ander kragmeting was die telling tussen die Australiër Alex de Minaur, wat Suid-Afrika se Lloyd Harris (gewrigsbesering) by verstek in die kwarteindronde geklop het, en die jong Carlos Alcaraz van Spanje ook 2-2 toe spel onderbreek is.

* In Belgrade in Serwië het Novak Djokovic nie sy tuisskare teleurgestel nie toe hy sy eerste eindstryd van 2022 gehaal het deur die Rus Karen Khachanov met 4-6, 6-1 en 6-2 in die halfeindronde van die mansenkelspel te troef.

Djokovic kom in Sondag se eindstryd teen nog ʼn Rus, Andrey Rublev, te staan, wat Fabio Fognini van Italië met 6-2 en 6-2 verslaan het.

* In Stuttgart het die wêreld se voorste vrouespeler, Iga Swiatek van Pole, haar oorwinningstog voortgesit toe sy Ludmilla Samsonova van Rusland met 6-7 (4/7), 6-4 en 7-5 uitgeskakel het.

Die 20-jarige Swiatek, wat reeds vanjaar die titels in Doha, Indian Wells en Miami agter haar naam geskryf het, het haar 22ste agtereenvolgende wedstryd gewen.

Sy kom in die eindstryd teen Aryna Sabalenka van Belarus te staan, wat Paula Badosa van Spanje met 7-6 (7/5) en 6-4 geklop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.