Tennis: SA het ʼn dubbele aandeel in dié jaar se klimaks

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Die ATP se toer-eindwedstryde begin Sondag in die O2-Arena in Londen. Die top agt mansspelers sal mekaar van 11 tot 18 November die stryd aansê om as die 2018-kampioen gekroon te word. Suid-Afrika sal deur Kevin Anderson verteenwoordig word. Wayne Ferreira was die laaste Suid-Afrikaner (in 1996) wat dit kon vermag.

Indien Anderson die toernooi wen, sal hy vierde op die wêreldranglys wees. Net twee Suid-Afrikaners kon dit nóg vermag, naamlik Eric Sturgess (1949) en Cliff Drysdale (1967).

Die agt enkelspelspelers sal meeding om R120 miljoen en is in twee groepe ingedeel met Kevin Anderson wat in die dieselfde groep as Roger Federer is.

  • Lleyton Hewitt Groep:

(2) Roger Federer (SWI)

(4) Kevin Anderson (RSA)

(6) Dominic Thiem (OOS)

(7) Kei Nishikori (JPN)

  • Guga Kuerten Groep:

(1) Novak Djokovic (SER)

(3) Alexander Zverev (DUI)

(5) Marin Cilic (KRO)

(8) John Isner (VSA)

Nadat die rondomtalie-wedstryde in die twee groepe afgehandel is, sal die twee voorste spelers in elke groep deurdring na die halfeindstryd.

Dit sal die eerste keer ooit wees dat Suid-Afrika gelyktydig in die enkelspel asook in die dubbelspel verteenwoordig word.

Raven Klaasen. Foto: All England Lawn Tennis Club, Joel Marklund (ANA)

In die dubbelspel is Raven Klaasen (RSA) en Michael Venus (Nieu-Seeland) sesde gekeur vir die toer-eindstryd wat ook in Londen gespeel word. Dit sal die derde keer in ʼn ry wees dat Klaasen in die toer-eindstryd in aksie sal wees. In 2016 het hy die eindstryd saam met sy spanmaat, Rajeev Ram van Amerika, gehaal.

Die voorste speler in die wêreld, Novak Djokovic, het die jaar buite die top 20-spelers begin nadat hy verlede jaar met ʼn elmboogbesering gesukkel het. Met Rafael Nadal se besering, wat hom die res van die jaar op die kantlyn gaan hou, het Djokovic verseker hy sluit dié jaar as nommer een af.

In die eerste enkelspelwedstryd Sondag, speel Kevin Anderson teen Dominic Thiem.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.