Tennis se groot kanonne bulder in Parys

’n Vlieënde Carlos Alcaraz in aksie. (Foto: Twitter/Carlos Alcaraz)

Die kwarteindstrydronde van die Franse Ope is hier en van tennis se grootste sterre is vandag in aksie.

Stefanos Tsitsipas is oorgehaal om Carlos Alcaraz ʼn ding of twee op die kleibane van Parys te wys; selfs al kon hy nog nooit vantevore met die Spaanse ster afreken nie.

“Ek dink almal het vir hierdie tweestryd gewag, nie waar nie? En nou is dit hier. Al wat ek kan sê is: Game on,” het ʼn veglustige Tsitsipas gesê kort nadat hy met Sebastian Ofner in sy vorige kragmeting afgereken het.

Alcaraz is egter die gunsteling om met die kwarteindstryd-louere weg te stap – hy het immers al vier wedstryde op ʼn streep teen die Griekse speler gewen.

“Ja, ek het tot dusver alles gewen, maar dit beteken nie dat ek in elke liewe wedstryd die septer sal swaai nie. Hy is ʼn baie taai teenstander en ek kan nie bekostig om konsentrasie te verloor nie,” het Alcaraz gesê.

Novak wil nie nou al oor ʼn 23ste Grand Slam-titel praat

Novak Djokovic is weliswaar nog op die regte pad om ʼn 23ste Grand Slam-titel in te oes, maar hy wil veel eerder op die hede fokus as om oor ʼn moontlike titel-partytjie te droom.

Die Serwiër het in die vierde ronde op ʼn drafstap met Juan Pablo Varillas afgereken en hy begin ongetwyfeld op die regte tyd in die toernooi vlamvat.

“Ek weet wat my doelwit is. Ek probeer om geestelik op koers te bly en nie te ver vorentoe te kyk nie. My vertoning teen Varillas het my selfvertroue ʼn groot hupstoot gegee en ek sien uit na my volgende wedstryd,” het Djokovic gesê.

Wanneer die voormalige wêreldnommereenspeler in só ʼn bui is, is dit nie goeie nuus vir sy teenstanders nie. Tog is Karen Khachanov gereed vir aksie.

Die Rus het ʼn kragmeting teen Djokovic met ʼn skaakwedstryd vergelyk; een waar jy gereeld met ʼn meesterskuif of twee vorendag moet kom.

“Ek het baie respek vir Novak, maar die adrenalien bruis deur my are en ek gaan beslis speel om te wen,” het Khachanov gesê.

Uitslae:

Tomas Etcheverry klop Yoshihito Nishioka met 7-6, 6-0 en 6-1

Alexander Zverev klop Grigor Dimitrov met 6-1, 6-4 en 6-3

Holger Rune klop Francisco Cerundolo met 7-6, 3-6, 6-4, 1-6 en 7-6

Casper Ruud klop Nicolas Jarry met 7-6, 7-5 en 7-5

Coco Gauff klop Anna Schmiedlova met 7-5 en 6-2

Beatriz Haddad Maia klop Sara Sorribes Tormo met 6-7, 6-3 en 7-5

Ons Jabeur klop Bernarda Pera met 6-3 en 6-1.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.