Tennis se kroonprins het groot drome

Spanje se Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Spanje se Carlos Alcaraz tel onder die tien beste tennisspelers ter wêreld. Dis ’n prestasie wat hy op die jong ouderdom van 18 jaar, 11 maande en 20 dae vermag het.

Dit maak van hom die negende jongste speler nóg – naas legendes soos Andre Agassi, Björn Borg en Rafael Nadal – om saam met die wêreld se bestes op die ATP-ranglys te gesels.

En ná sy onlangse sukses in die eindstryd van die Barcelona-ope (waar hy sy landgenoot Pablo Carreno Busta met 6-3 en 6-2) geklop het, droom wêreldtennis se kroonprins groot drome.

“Ek sal graag eendag die wêreldnommereenspeler, ’n Grand Slam-kampioen en die wenner van Olimpiese medaljes wil wees,” het Alcaraz gesê.

Vreemd genoeg was Nadal – Spanje se heersende tenniskoning – net ’n maand jonger as die El Palmar-boorling toe hy sy toptien-deurbraak gemaak het.

“Ek is maar ’n gewone ou; tog is ek nie skrikkerig vir die nuutgevonde roem nie en ek dink nie dit gaan verander wie ek is nie. Ek is baie dankbaar dat ek onder die voorste spelers ter wêreld tel en dit is lekker om te weet dat ek dit op dieselfde ouderdom as Rafa kon doen. Hy is immers my held.”

Alcaraz het vroeër ’n oproep van koning Felipe VI ontvang toe hy vir Casper Ruud in die eindstryd van die Miami-ope ore aangesit het.

“Dit was ongelooflik om met die koning oor die telefoon te praat en ek was eintlik toe meer op my senuwees as gedurende die hele wedstryd. Ek het nooit gedink dat so iets met my sal gebeur nie.”

Maar vir ’n jong tenniskroonprins – met die wêreld se grootste titels binne sy bereik – kan oproepe van koninklikes en Grand Slam-organiseerders ’n gereelde ding word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.