Tennis: Skokke in Indian Wells-toernooi

Stefanos Tsitsipas wens Nikoloz Basilashvili geluk na hul wedstryd (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Twee van die grootste trekpleisters in die Indian Wells-tennistoernooi wat in Kalifornië in Amerika beslis word, het onverwags hul rieme in die kwarteindronde styfgeloop, wat die kaarte in die mansafdeling lelik deurmekaargeskommel het.

Stefanos Tsitsipas van Griekeland, wat derde op die ATP se wêreldranglys is, is met 6-4, 2-6 en 6-4 deur die ongekeurde Nikoloz Basilashvili van Georgië geskok.

Alexander Zverev van Duitsland, die Olimpiese kampioen in die Tokio-Spele, kon nie twee wedstrydpunte afrond nie en is deur die onbesonge Amerikaner Taylor Fritz met 4-6, 6-3 en 7-6(7-3) getroef.

Basilashvili speel laat Saterdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) teen Fritz in die een halfeindstryd, terwyl die Brit Cameron Norrie en Grigor Dimitrov van Bulgarye mekaar in die ander halfeindstryd pak.

Tsitsipas, wat tweede gekeur was, het swak begin en kon net agt wenhoue teenoor Basilashvili se 14 in die eerste stel slaan. Tsitsipas het hom reggeruk en die tweede stel oorheers.

Dit het gelyk asof hy sy peil herwin het wat hom tot oorwinnings oor Fabio Fognini en Alex de Minaur in die vorige twee rondes gestuur het, maar hy het in die derde stel lusteloos vasgeval.

Zverev het in sy kragmeting met Fritz op 5-3 in die derde stel afgeslaan om die wedstryd te beklink, maar twee onverklaarbare dubbelfoute het tot sy ondergang gelei.

Zverev, wat 20 van sy vorige 21 wedstryde op hardebane gewen het sedert hy sy derde Meesters 100-titel in Maart gewen het, het in die uitkloppot boedel oorgegee.

* In die vroue-halfeindstryd was Ons Jabeur, die eerste speler van Tunisië wat in die toptien op die wêreldranglys kon opskuif, se vreugde van korte duur toe sy deur Paula Badosa van Spanje met 6-3, 6-3 geklop is.

In die ander halfeindstryd het Victoria Azarenka van Belarus tot die eindstryd deurgedring toe sy Jelana Ostapenko van Letland met 3-6, 6-3 en 7-5 uitgeskakel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.