Tennis: Top gekeurdes dra die kroon by die Franse Ope

Rafael Nadal (Foto: Roland Garros, Twitter)

Die twee top gekeurde spelers by vanjaar se Franse Ope op Roland Garros het Saterdag en Sondag met die louere weggestap. Rafael Nadal en Simona Halep het onderskeidelik die tweede Grand Slam van die jaar se mans- en vroue-titels gebuit.

Rafael Nadal het vanjaar sy 11de titel by die Franse Ope in Parys gejaag. In die kwarteind het hy sy eerste stel sedert 2015 aan Diego Schartzman afgestaan. Dit het net weer gewys dat Nadal geen gelyke het as dit by kleibaan-tennis kom nie.

Die 32-jarige Spanjaard het ná Donderdag se oorwinning slegs die derde tennisspeler in die geskiedenis geword wat vir ʼn elfde keer tydens ʼn Grand Slam-toernooi dit kon vermag om die kwarteind te bereik. Die ander twee was Jimmy Connors by die VSA Ope en Roger Federer op Wimbledon en by die Aussie Ope.

In die halfeind het (1) Nadal met (5) Juan Martin del Potro afgereken om vir die eindstryd te kwalifiseer.

Die eindstryd was beslis tussen (1) Nadal en (7) Domic Thiem en dit was eenrigtingverkeer vir Nadal. Hy het in skoon stelle met 6-4, 6-3 en 6-2 geseëvier om sy elfde Franse Ope titel in te palm.

In die vroue-afdeling het (1) Simona Halep ʼn relatiewe maklike eindstryd beleef nadat verskeie top-gekeurdes vroeg uitgeskakel is. In die halfeind het sy vir (3) Garbine Mugaruza met 6-1 en 6-4 geklop. In die eindstryd het Simona teen (10) Sloan Stephens te staan gekom en in drie stelle geseëvier om haar eerste Grand Slam-titel van haar loopbaan in te palm. Nadat Halep die eerste stel verloor het, het sy voortgegaan om die volgende twee stelle in te palm en die titel te verower. Die teling was 3-6, 6-4 en 6-1.

Die volgende Grand Slam-toernooi begin op 2 Julie op Wimbledon in Londen.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.