Tennis: Wimbledon se kaarte vir week twee ontbloot

Novak Djokovic speel teen Kyle Edmund. Djokovic het 3-1 gewen. Foto: Xinhua/Guo Qiuda.

Die derde Grand Slam van 2018, die Wimbledon Tenniskampioenskappe, se eerste week is afgehandel. In die mans-afdeling het sake redelik glad verloop vir die top- gekeurde spelers, terwyl die teenoorgestelde van die vroue-afdeling gesê kan word.

In die mansenkelspel is die fokus steeds op (1) Roger Federer (wat sy negende titel op Wimbledon najaag) en (2) Rafael Nadal, wat beide gemaklike oorwinnings in week een behaal het om die vierde ronde te bereik. Rafael Nadal het ʼn paar weke gelede sy 11de titel by die Franse Ope in Parys ingepalm, maar hy het hierdie week gewys dat hy net so gevaarlik is op gras. Die derde gekeurde Marin Cilic moes vroeg reeds sy tassie pak.

Die laaste Britse speler, Kyle Edmund, is ook reeds uitgeskakel deur een van die vorige kampioene, (12) Novak Djokovic, wat beteken daar is nie meer enige spelers van die gasheerland oor nie.

Suid-Afrika se oë is steeds op (8) Kevin Anderson wat ook die vierde ronde gehaal het. Kevin het sy drie wedstryde in week een redelik gemaklik gewen en hy sal volgende teen die Fransman Gaël Monfils op die baan stap.

Die belangrikste bepalings vir die vierde ronde lyk só:

(1) Roger Federer teen (22) Adrian Mannarino

(2) Rafael Nadal teen Jiri Vesely

(5) Juan Martin del Potro v Gilles Simon

(8) Kevin Anderson v Gaël Monfils

In die vroue-enkelspel is die topgekeurdes een na die ander uitgeskakel. (1) Simona Halep moes ook in die derde ronde die knie buig voor die ongekeurde Hsieh Su-wei.

Die enigste top-10-speler wat oor is, is (7) Karolína Plíšková. Die hoogste speler ná haar is (11) Angelique Kerber. Serena Williams, wat 25ste gekeur is, staan ʼn goeie kans om met die titel weg te stap. Serena het die titel al sewe maal gewen.

In die mans-dubbelspel is Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy spanmaat, Michael Venus, steeds in die wedloop. Hulle sal in die ronde van 16 teen Leonardo Mayer en João Sousa te staan kom.

Die vroue-eindstryd word Saterdag 14 Julie gespeel en die manskampioen sal Sondag 15 Julie gekroon word.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.wimbledon.com/index.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.