Tennis: Wimbledon se wennerspodium staan wawyd oop

Roger Federer. Foto: AP Photo/Alastair Grant.

Die derde Grand Slam van 2018,die Wimbledon Tenniskampioenskappe, begin Maandag 2 Julie en duur vir twee weke.

Vanjaar kan die wenners, van beide die mans- en vroue-enkelspel, enige een van ʼn hele rits spelers wees. Wat egter verseker is, is die grasbane is gereed, baie opwinding wag, wit tennisdrag sal gedra word en daar sal ʼn bakke en bakke vol aarbeie en room wees.

In die mansenkelspel is Roger Federer dalk ʼn kortkop voor Rafael Nadal as dit by gunstelinge kom. Daar is ook Marin Cilic en Alexander Zverev wat in hul nekke blaas. Raak Federer dalk nou net te oud om weer op gras te kan wen? Hy wat Federer is, het juis die afgelope naweek pak gekry by die Queens-toernooi. Geskiedenis is egter aan Federer se kant, want hy was al agt keer as kampioen op Wimbledon gekroon.

Nadal het ʼn paar weke gelede met sy 11de titel by die Franse Ope in Parys weggestap. Nadal het geen gelyke as dit by kleibaantennis kom nie, maar op gras het hy in die verlede minder goed gevaar. Kan Andy Murray ʼn buiteperd wees nadat sy landgenoot, Kyle Edmund, hom dié week in Eastbourne geklop het? In hoe ʼn mate het Murray van sy heupoperasie herstel? Net tyd sal leer.

Kevin Anderson. Foto; AP Photo/Seth Wenig

Suid-Afrika se oë sal gefokus wees op Kevin Anderson. Kan dit dalk sy groot jaar wees? Baie mense sê egter dat Kevin te veel in die verlede gesukkel het om die groot oomblikke te verwerk. Anderson speel egter deesdae baie meer bestendig en hy kan dalk net vir ʼn opskudding of drie sorg soos wat Kevin Curren in die tagtigs gedoen het.

Federer is eerste gekeur vir die toernooi met Nadal tweede.

1) Roger Federer

2) Rafael Nadal

3) Marin Cilic

4) Alexander Zverev

5) Juan Martin del Potro

6) Grigor Dimitrov

7) Dominic Thiem

8) Kevin Anderson

Serena Williams. Foto: AP Photo/Christophe Ena/ wire.africannewsagency.com

In die vroue-enkelspel is byna enige iets moontlik. Die gereelde wyse waarop gekeurde spelers tydens vrouetoernooie vasval, is by ons almal bekend. Daarmee sê mens eintlik dat selfs Serena Williams, wat 25ste gekeur is, met die titel kan wegstap. Dit is dalk nie so ʼn lawwe raaiskoot nie, want Serena het weliswaar al sewe keer die titel gewen.

Die keurlys vir die vroue lyk só:

  1. Simona Halep (ROM)
  2. Caroline Wozniacki (DEN)
  3. Garbiñe Muguruza (SPA)
  4. Sloane Stephens (VSA)
  5. Elina Svitolina (UKR)

Nou wag almal net vir die skeidsregters se aankondiging “Stilte asseblief”! sodat die spel kan begin. Die spel sal daagliks om 12:00 Suid-Afrikaanse tyd ’n aanvang neem.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.