Tennisgewys is niks Grieks vir Djokovic

Serwië se Novak Djokovic met die Mousquetaires-beker ná sy oorwinning oor Griekeland se Stefanos Tsitsipas tydens die eindstryd van die Roland Garros 2021 Franse Ope in Parys (13 Junie 2021) (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Novak Djokovic het sy epiese halfeindstryd teen Rafael Nadal met ’n staptoer na die bopunt van Everest vergelyk. As dit dan die geval is, moet vandag se eindstryd teen Stefanos Tsitsipas ongetwyfeld ’n besoek aan Kilimanjaro op ’n reënerige dag wees.

Die wêreld se voorste speler het ’n agterstand van twee stelle uitgewis om uiteindelik met 6-7, 2-6, 6-3, 6-2 en 6-4 te wen om sy 19de Grand Slam-titel in te oes.

Sodoende het hy slegs die derde speler in die geskiedenis van die spel geword om elke Grand Slam-toernooi minstens twee keer te wen.

Vandag moes hy waarskynlik een van die kwaaiste aanslae in sy roemryke tennisloopbaan afweer toe die 22-jarige Griek soos ’n vetgesmeerde blits op Roland Garros weggetrek het.

Tsitsipas was vinniger, sterker en ongetwyfeld uitgehonger vir sukses in sy eerste Grand Slam-eindstryd. Daarteenoor was Djokovic effens tam ná sy kragmeting teen Nadal en hy het gesukkel om by die jonger speler se pas te bly.

Serwië se Novak Djokovic soen die Mousquetaires-beker ná sy oorwinning oor Griekeland se Stefanos Tsitsipas tydens die eindstryd van die Roland Garros 2021 Franse Ope in Parys (13 Junie 2021) (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Maar soos wat dit enige kampioenspeler betaam, kon Djokovic na ’n hoër rat in die derde stel oorskakel en skielik het hy vir Tsitsipas (12 jaar sy junior) ’n ding of twee gewys wat ratsheid, uithouvermoë en akkuraatheid betref.

Soos wat die skaduwees in Parys langer geword het, het Djokovic die wedstryd – pot vir pot en stel vir stel – langer uitgerek om uiteindelik in net meer as vier uur met die louere weg te stap.

“Dit is ’n droom wat bewaarheid is. Dit is ongelooflik moeilik om die titel teen ’n uitstekende speler te wen en ek het ’n taai drie dae se tennis agter die blad,” het die Serwiër gesê.

Die 34-jarige speler het vroeër vanjaar in ’n onderhoud gesê dat die toekoms van wêreldtennis in goeie hande is danksy die jong talent van Alexander Zverev, Daniil Medvedev en Tsitsipas.

Vandag het die jong Griek sy bes gedoen om die ou strydros uit te oorlê, maar Djokovic het op die ou einde die laaste gelag.

Van Djokovic se rekords:

  • Hy is die eerste speler sedert Rod Laver in 1969 om al vier Grand Slam-titels meer as twee keer te wen.
  • Hy is die eerste speler ooit om die titel in te oes nadat hy ’n agterstand van twee stelle in dieselfde toernooi moes uitwis.
  • Hy is net een titel weg van Roger Federer (20) en Rafael Nadal (20) se Grand Slam-rekord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kathleen ·

ek is so bly vir Novak Djokovic , hy is my gunsteling speler en verdien verseker om met die louere weg te stap . Well done Novak !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.