Thailandse MotoGP: Binder eindig 10de

Brad Binder in aksie. (Foto: MANAN VATSYAYANA / AFP)

Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) se drome om Sondag in Buriram ʼn derde podiumplek in vanjaar se MotoGP-reeks in die Thailandse MotoGP los te jaag, is deur ʼn onverskillige Aleix Espargaro (Aprilia) gekelder.

Binder, wat in die 12de posisie weggespring het, het darem ʼn toptien-plek losgejaag toe hy tiende geëindig het.

Binder het binne die eerste paar rondtes tot die tiende plek opgeskuif voordat Espargaro teen hom gebots het. Dit het Binder van die baan gedwing en hoewel hy darem nie geval het nie, het hy ʼn paar plekke ingeboet.

Espargaro is later deur die beamptes gestraf en hy moes ʼn lang rondte aflê.

Die Grand Prix, wat 55 minute laat begin het nadat dit kwaai gereën het, is deur Miguel Oliveira (Red Bull KTM) gewen, met die Australiër Jack Miller (Ducati Lenovo) tweede, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo)  derde, Johann  Zarco (Pramac Ducati) vierde, Marc Marquez (Repsol Honda) vyfde en Enea Bastianini (Gresini Ducati) sesde.

Fabio Quartararo (Monster Yamaha), die huidige wêreldkampioen en voorloper op vanjaar se punteleer, het ʼn nagmerriedag beleef en 17de geëindig ná ʼn baie swak wegspring.

Hy het geen punte ontvang nie en sy voorsprong bo Bagnaia (217) het tot slegs twee punte gekrimp met Espargaro (199) derde.

Binder is steeds sesde (154 punte).

Binder se jonger broer, Darryn, het 21ste op sy Yamaha geëindig.

Die volgende resies is die Australiese MotoGP op  16 Oktober in Melbourne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.