Thiem moet dié drie nog in eindstryde klop

Dominic Thiem. (AP Photo/Frank Franklin II)

Dominic Thiem het verlede jaar die eerste Grand Slam-titel van sy loopbaan gewen toe hy Alexander Zverev in die eindstryd van die Amerikaanse Ope getroef het.

Maar, sê Lindsay Davenport, voormalige Amerikaanse tenniskampioen, daar is nog ’n hindernis wat die Oostenryker moet oorbrug.

“Die Amerikaanse Ope-sege was ’n merkwaardige prestasie in sy loopbaan. Maar dit sal interessant wees om te sien hoe hy teen Roger Federer, Rafael Nadal en Novak Djokovic in die drukkoker-situasie van ’n eindstryd speel,” het sy gesê.

Federer gaan egter nie na Melbourne reis vir die Autraliese Ope nie, terwyl Thiem se statistieke nie vir slegte leesstof teen Djokovic en Nadal sorg nie.

Thiem het vyf van die 12 kragmetings teen Djokovic gewen, terwyl hy in ses van die 15 wedstryde teen Nadal baas was.

Hy het egter met albei sterre in verlede jaar se ATP Finals-toernooi in Londen afgereken.

Rafael Nadal en Dominic Thiem. Foto: (AP Photo/Andy Wong)

Daarbenewens sukkel Nadal normaalweg op die harde en vinnige bane van Melbourne: Paul Annacone – die oudafrigter van Roger Federer – het juis vroeër gesê dat hy vir die Spanjaard nie veel van ’n kans gee om uiteindelik met die louere weg te stap nie.

Maar Annacone, voormalige Amerikaanse tennisspeler, meen dat hy dalk steeds te veel skietgoed vir ’n speler soos Thiem kan hê.

“Op hierdie bane sal Rafa ongetwyfeld harde bene teen iemand soos Novak Djokovic kou. Maar ek is seker dat dit binne sy vermoë is om enige ander speler se aanslag af te weer,” het Annacone gesê.

’n Djokovic/Thiem-eindstryd is dus ’n definitiewe moontlikheid in Melbourne en indien die Oostenryker sou wen, is een van sy drie groot hindernisse uit die weg geruim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.