Thiem óók uit Amerikaanse Ope

Oostenryk se Dominic Thiem. Foto: Twitter.

Die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen, Oostenryk se Dominic Thiem, sal ook nie vanjaar in New York afslaan nie.

Die 27-jarige tennisspeler het nog nie volkome herstel van ’n gewrigbesering wat hy tydens die Mallorca-Ope in Junie opgedoen het nie.

“Ek is baie teleurgesteld dat ek nie my titel in New York sal kan verdedig nie,” het die Oostenryker getwiet. Hy het ook Wimbledon en die Olimpiese Spele misgeloop.

Volgens Thiem het dinge beter begin lyk, maar hy het verlede week weer ’n terugslag op die oefenbaan ervaar.

“Ná ’n hele paar toetse het mediese personeel tot die gevolgtrekking gekom dat ek nog langer sal moet rus. Ek sal weer eens ’n spalk moet dra en ook nie gou weer aan ’n tennisraket kan vat nie.”

Die Oostenryker het verlede jaar se eindstryd teen Alexander Zverev gewen om sy eerste Grand Slam-titel te verower.

“Dit was ’n moeilike besluit om te neem, maar dit is ongelukkig wat ek moet doen. Ek het nog ’n lang loopbaan wat voorlê en dit is belangrik dat ek nie oorhaastig sal optree nie.”

Die nuus volg kort op die hakke van Roger Federer se aankondiging dat hy ook die toernooi sal misloop. Die 40-jarige Switserse meester sal sy derde knie-operasie ondergaan.

“Dit is ’n moeilike tyd wat voorlê, maar terselfdertyd weet ek dat dit die regte ding is om te doen, want ek wil fiks en gesond wees. Dan wil ek ook vir myself ’n tikkie hoop gee om weer tot die sport terug te keer,” het Federer gesê.

“Ek is egter ’n realistiese mens en weet hoe moeilik dit is om op my ouderdom van só ’n operasie terug te keer. Maar ek sal die rehabilitasieproses met die oog op ’n spesifieke doel aanpak en hopelik dra dit my deur die moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kathleen ·

Ek hoop om my gunstelling tennis-speler daar in aksie te sien : Novak Djokovic !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.