Thiem wen riller-eindstryd

Dominic Thiem. (AP Photo/Frank Franklin II)

Gisteraand se Amerikaanse Ope-eindstryd tussen Oostenryk se Dominic Thiem en Duitsland se Alexander Zverev het gewys dat die tenniswêreld in veilige hande is; selfs in Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer se afwesigheid.

Ja, die term “epiese wedstryd” word dalk te maklik in die sportwêreld gebruik – soos by ’n o.9D-rolbalwedstryd – maar hoe kan ’n eindstryd wat oor vyf stelle beslis word dan nou anders beskryf word?

Thiem het met ’n terugvegpoging vorendag gekom waarvan die meeste aksiehelde net kan droom toe hy Zverev met 2-6, 4-6, 6-4, 6-3 en 7-6 in New York geklop het.

Dit was nie net die Oostenryker se eerste Grand Slam-titel nie, maar hy is ook die eerste speler in die ope-era wat met die Amerikaanse Ope-silwerware wegstap nadat hy ’n agterstand van twee stelle moes uitwis.

Ten spyte van al die drama en opwinding op die baan is Thiem steeds trots op Zverev; ’n teenstander wat hy as ’n hegte vriend beskou.

Alexander Zverev wens vir Dominic Thiem geluk ná hul epiese eindstryd. (AP Photo/Seth Wenig)

“Ons het mekaar in 2014 leer ken en sommer dadelik goeie vriende geword. Dit is wonderlik om te dink dat ons saam in só ’n wedstryd kon speel. Ek wens daar kon vandag twee wenners gewees het, want ons het dit al twee verdien,” het Thiem gesê.

Zverev het aanvanklik met sy afslane beïndruk en hy het gereeld die bal teen vinniger as 200 km/h in Thiem se rigting afgevuur.

Maar soos wat die wedstryd gevorder het, het die spelers meer staat op hul deursettingsvermoë as op blitsige afslane begin maak.

“Ek wil Dominic gelukwens met die eerste van vele Grand Slam-titels.  Ek wens jy kon die bal dalk ’n bietjie meer misgeslaan het sodat ek met die louere kon wegstap, maar hier is ek besig om my naaswenner-toespraak te lewer,” het Zverev ná die tyd geskerts.

Hy het ook sy afrigterspan bedank wat deur dik en dun by hom gestaan het.

“Die afgelope ruk was nie die maklikste nie, maar ek hoop dat ons eendag saam ’n trofee omhoog sal hou.”

(AP Photo/Seth Wenig)

Wie sou ooit kon raai dat Novak Djokovic se lynregter-glips vir só ’n epiese eindstryd sou sorg? Want as die wêreld se voorste speler nie vroeër op ’n omstrede wyse gediskwalifiseer is nie, sou daar waarskynlik nie vandag ’n splinternuwe Amerikaanse Ope-kampioen gewees het nie.

Die kanse is goed dat daar nie sommer weer ’n tennisera soos dié van Djokovic, Nadal en Federer sal wees nie, maar Thiem en Zverev het gisteraand gewys dat die jonger spelers vir niemand hoef terug te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Moedeloos ·

Baie geluk Dominic jy is een van my gunsteling spelers, eintlik jul albei vanj ulle, maar Thiem het my al voorheen baie beindruk het altyd op nr 99 uitgeval. Hy is en bly nederige speler. Sal die hoogtepunte kyk , bietjie laat SA tyd gewees wat jul gespeel het veral in koue nat Kaap gisteraand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.