Thomas: ’n Touleier soos min

Thomas van Tonder. Foto: Tyrone Bradley/Red Bull Content Pool.

Sy naam is Van Tonder. Thomas van Tonder. En hy het gister die amper onmoontlike vermag toe hy suksesvol ’n tou van 90 m by die Soweto-torings geklim het

Die Suid-Afrikaanse hindernisbaan-ster het sommer in die proses ’n nie-amptelike Guinness-wêreldrekord vir die vinnigste 50 m-touklimsessie opgestel. Hy het dit in ’n tyd van 3:19.688 minute afgeblits, terwyl die 90 m-klimtog hom 9:05 minute geneem het om te voltooi.

Die tou was aan die brug tussen die twee torings vasgemaak en Van Tonder het dit van onder tot bo geklim.

“Dit was ’n wonderlike ervaring en ek het vooraf baie goed gevoel. Hier by die 50 m-kerf het ek eers ’n bietjie asem geskep en vinnig na my horlosie geloer. Ek het onmiddellik besef dat ek vinniger as vier minute geklim het en dit was ’n groot persoonlike doelwit wat ek bereik het,” het Van Tonder gesê.

Foto: Tyrone Bradley/Red Bull Content Pool.

Maar ná hierdie mini-triomf was die einde nog ver in sig. Veertig meter ver om presies te wees.

“Ja-nee, ek het toe besef dat ek nog ’n paar meter oor het om te klim. Die laaste gedeelte was veral moeilik omdat ek reeds al my krag en energie vir die eerste 50 m gebruik het. ”

Hy het egter hard gewerk en al was sy arms doodmoeg het die uitsig van bo en sy ondersteuningspan se verwelkoming alles die moeite werd gemaak.

“Die dag het my wildste drome oortref. Om ’n tou van 90 m te klim is deksels moeilik. Maar ná alles is die uitsig ongetwyfeld die kersie op die koek.”

Van Tonder wag nou vir die wêreldrekordspan om sy poging amptelik as ’n rekord goed te keur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.