Tian gaan uiteindelik appels swaai

Tian Fick. Foto: Verskaf.

As daar ’n Suid-Afrikaanse sportman is wat die betekenis van “lankmoedigheid” vir jou uitstekend kan verduidelik, dan moet dit Tian Fick wees.

Die Suid-Afrikaanse swaargewig-bokskampioen was vanjaar omtrent van bakboord na stuurboord en sommer weer terug na bakboord om ’n teenstander in die kryt te soek.

En dit moet omtrent ’n uitdaging wees om geduldig te bly.

Fick moes in April teen Andriy Rudenko om die WBO-titel in die Oekraïense hoofstad Kiëf geboks het. Maar die Europese bokser het op die vooraand van die geveg positief vir Covid-19 getoets en die beplande tweestryd het uiteindelik in die slag gebly.

Voeg daarby nóg ’n gekanselleerde kragmeting in Oostenryk, ’n gesukkel in Suid-Afrika en dit is heeltemal te verstane dat die bokser se frustrasievlakke die hoogte ingeskiet het.

“’n Mens kan dit met die Springbokke vergelyk wat vir ’n internasionale reeks voorberei – net om ’n hele paar keer deur die loop van die jaar te hoor dat die toer afgelas is,” het Fick vroeër op sosiale media gedeel.

Nou, nadat sy aanvanklike teenstander ook op kort kennisgewing kop uitgetrek het, boks die nasionale swaargewigkampioen hierdie naweek teen Juan Roux in Kaapstad.

“Ek kan nie eens vir jou beskryf hoe gefrustreerd ek is nie,” het Fick vanoggend aan Maroela Media gesê.

Fick was in Francois van Coke se hoek tydens die gewilde Boxop-vertoongeveg. Foto: Verskaf.

“Ek is bly dat ek in die kryt kan meeding en ek probeer om so positief moontlik te bly. Geestelike fiksheid is baie belangrik in die bokswêreld en ’n mens leer vinnig hoe om aanpasbaar te wees.”

Tog moet dit g’n maklike taak wees om op die nippertjie vir ’n nuwe teenstander voor te berei nie.

Fick voorspel dat die talentvolle Roux waarskynlik sal probeer om hom uit te slaan.

“Almal probeer maar om dit te doen. Daarteenoor sal ek aanhou boks totdat hy moeg is, maar moet my nie verkeerd verstaan nie: Wanneer daar ’n opening is, sal ek beslis probeer om hom planke toe te stuur.”

Fick het in Desember 2020 die eerste Kapenaar in 106 jaar geword om met die SA swaargewigtitel te kan spog nadat hy Josh Pretorius geklop het.

Die reus van 2,03 m het danksy daardie oorwinning sy woord aan sy oorlede pa gestand gedoen.

“My pa is twee weke vóór my eerste professionele geveg dood en sedert daardie debuutkragmeting is dit ’n stelling wat ek in die kryt wou maak: Ek sal eendag met die titel wegstap.”

Foto: Verskaf.

Fick is 37 jaar oud en hy is self nie heeltemal seker hoe lank hy nog gaan boks nie. Maar hy het nog krytdrome en hulle gaan beslis hierdie naweek opnuut lewe kry.

  • Aanlyn kaartjies vir die Vansan Jackie Brice BOXOP “Brookside Brawl” is teen R50 hier Die aksie begin reeds Saterdag om 18:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Tian,vat nou goeie raad van ‘n oom.Jy is 37 en dus is jou beste dae verby.Hang op jou handskoene voor jy seer kry.As jy teen jong oorsese boksers gaan boks gaan hulle die waks uit jou ore uit slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.