
Luce Douady. Foto: Twitter.
Een van Frankryk se belowendste jong sportsterre, die 16-jarige rotsklimmer Luce Douady, het die afgelope naweek na haar dood geval.
Die jong Douady het die klimwêreld aan haar voete gehad: Sy is verlede jaar as die junior wêreldkampioen aangewys, terwyl sy ’n bronsmedalje by die senior Europese kampioenskap verower het.
Met muurklim wat as ’n Olimpiese sport erken word, was sy goed op pad om haar land tydens volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio te verteenwoordig.
Volgens ’n amptelike verklaring van die FFME, die beheerliggaam vir bergklim in Frankryk, het Douady Sondag saam met vriende in die suide van Frankryk geklim.

Sy was een van die talentvolste jong sportsterre ter wêreld. Foto: Twitter.
Terwyl sy besig was om ’n onbekende deel van ’n krans naby Grenoble te verken, het haar voet glo gegly en sy het 150 m ver na haar dood geval.
Volgens die Franse media is die presiese omstandighede van haar dood nog onbekend en ’n nadoodse ondersoek is van stapel gestuur.
Sedertdien stroom die huldeblyke van reg oor die wêreld vir die jong klimsensasie in.
“Luce was ’n baie belowende jong atleet van die Franse klimspan. Op slegs 16-jarige ouderdom het ’n ongelooflike toekoms op haar gewag. Sy was ’n briljante mededinger wat mal was oor elke liewe aspek van rots- en muurklim. Groot prestasies was maklik binne haar vermoë,” die FFME gesê.
Die Franse klim-webtuiste Grimper het in hul huldeblyk gesê dat Douady die toekoms van rotsklim was.
Haar klub, Chambéry Escalade, het haar as ’n “pragtige mens” beskryf wat met oorgawe geleef het.
“Sy was ’n meisie vol passie, energie en talent.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
En dis al wat dit vat, net een fout…
Wat n tragiese einde..