Titane van die tennisbaan!

Novak Djokovic van Serwië (14 Julie 2019) (Foto: @Wimbledon/Twitter)

Net ’n rapsie ná 15:00 vanmiddag het Roger Federer die Wimbledon-manseindstryd teen Novak Djokovic met ’n kishou begin.

Vyf stelle en amper vyf ure later, het die 37-jarige Switserse held homself met ’n voorhandhou misreken en die bal die Londonse rug ingeslaan. Sodoende het Djokovic die langste Wimbledon-eindstryd van alle tye met 7-6, 1-6, 7-6, 4-6 en 13-12 gewen.

Federer het die eerste, en wat sommige (aanvanklik) as die beste stel van die toernooi beskryf het, 6-7 verloor. Hy het egter die tweede stel oorheers en met 6-1 gewen.

Djokovic het daarna die derde stel gewen, net om weer die vierde stel af te staan.

Die vyfde en beslissende stel het twee ure en twee minute geduur en Djokovic het kop gehou om 13-12 te wen. Hy het die valbylstryd 7-3 gewen.

Tog het Federer sy kanse gehad, maar hy het twee kampioenskapspunte in die water gesmyt en toegekyk hoe die jonger Djokovic terugbaklei het.

Om die wedstryd in vier woorde op te som: Dit was absoluut briljant.

Dit het al die bestanddele van ’n titaniese eindstryd gehad – drama, kanniedood-vasberadenheid, talent, deursettingsvermoë en die verstommende reaksies wat net ’n finaal tussen die eerste en tweede gekeurde spelers kan opdis.

“Ek sal maar probeer om van dié wedstryd te vergeet,” het Federer ná die tyd geskerts. “Ek het wel my kanse gehad, maar goeiste Novak, dit was ’n kookwaterstryd. Ek hoop terselfdertyd ek kan ander 37-jariges inspireer dat dit nog hoegenaamd nie die einde van jou storie is nie.”

Djokovic het op sy beurt gesê dat dit hartseer is dat iemand moes verloor het. “Dit voel half onwerklik om terug te kom nadat jy twee kampioenskapspunte teen jou naam het,” het die wêreld-nommer-een gesê.

“Roger het gesê hy wil ander inspireer om te glo dat hulle só goed kan speel op 37-jarige ouderdom. Wel, ek is een van diegene wie hy inspireer.”

  • Dit is Djokovic se vyfde Wimbledon-titel. Hy het die titel ook in 2011, 2014, 2015 en 2018 ingepalm.
  • Federer het die meeste kishoue geslaan, maar Djokovic het komkommerkoel in die valbylstryde gebly en al drie gewen.

Simona Halep van Roemenië het Saterdag in die eindstryd van die vroue-enkelspel die 37-jarige Serena Williams van die VSA met 6-2, 6-2 van die baan gevee. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ronel ·

Beide die mans het n fantastiese wedstryd gespeel. So ook is beide gunstelinge van my. Dit was moeilik om kant te kies vadag.

Andreas ·

Die grootste teleurstelling ooit in my lewe, na ek ook al 3 voorheen beleef het. Mr Fed moes hom al drie Slams-finale voor die een geklop het, ten minste, ook een of so fir Nadal, maar as mens geseens is met alle talent en nie die kop nie, soos Mr Fed mos al die jare mee sukkel is dit maar ‘n opdraende stryd.

Andreas ·

Mr Fed sal altyd in die anale as Mr Fed bekend staan, maar Nadal as die onwrikbare ongelooflike “muscleman”

En The Djoker as The Cool Under Pressure Man!!!!

Andreas ·

Dalk moet hulle hom vorentoe as “Spider man” bekendstel!

SANDRA ·

n Fanastiese finaal gespeel deur twee here op die baan en af die baan, dit was so moeilik om n gunsteling te kies. Dit het net gegaan oor tennis en hoe dit gespeel word deur die bestes in die wereld.

Nettie ·

Roger Federer = FedEx. Novak = Die Meester. Ek het op ‘n kol gedink FedEx gaan vanjaar die kroon dra, maar toe veg Die Meester weer terug met ‘n paar goed-beplande, en ja – ook hier en daar ‘n gelukskoot – terug. Die huidige tennissterre (mans én vroue) raak egter nou bietjie lang in die tand; dit sal interessant wees om te sien wie van die opkomendes raak sterre soos ons dit nou al gewoond is.

Griet Skryf n Sprokie... ·

FEDERER…!! WAT Ñ BELEEFDE NEDERIGE SPORTLEGENDE VIR EWIG!

maar geluk aan die wenner ook…

WL ·

Die mans eindstryd was iets besonders. Federer was nog altyd ‘n “nervous finisher” en onglukkig het dit hom gister duur te staan gekom. Maar hy bly nogsteeds my gunsteling en sal hom altyd ondersteun bo Nadal en Djokovic.

Maar behalwe vir die mans tennis, dankie tog vir Simona wat vir Serena ‘n groot pakslae gegee het. En wat ‘n nederige en pragtige meisie is sy nie. Ek het nog nooit weer ‘n gunsteling vroue tennisspeler na Steffi Graf gehad nie, maar ek dink ek het nou weer een gekry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.