Toekoms van manstennis in ‘goeie hande’

Novak Djokovic. (AP Photo/Frank Franklin II)

Die wêreld se voorste speler, Serwië se Novak Djokovic, meen die toekoms van manstennis is in goeie hande en dat die jonger spelers met ongekende dapperheid hul Grand Slam-drome jaag.

Vir die afgelope 15 jaar het die gedugte driemanskap van Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer die septer op die baan geswaai en hulle het in hierdie tydperk 57 van die groot titels verower.

Maar hul oorheersing word deur spelers soos Dominic Thiem, Alexander Zverev en Stefanos Tsitsipas bedreig. En Djokovic verwelkom die nuwe uitdaging.

“Dit is wonderlik vir die sport dat daar nuwe Grand Slam-kampioene is. Die jong spelers is nie bang om ons drie die stryd aan te sê nie,” het Djokovic gesê pas nadat hy toegesien het dat Serwië vir Kanada met 2 – 1 in die ATP-beker getroef het.

Hy het veral vir Tsitsipas, Zverev, Denis Shapovalov en Matteo Berrettini as gevaarmanne vir die toekoms uitgesonder.

Stefanos Tsitsipas vier ’n oorwinning oor die einste Djokovic. (Foto: Andy Wong, AP)

“Hulle het ongelooflike potensiaal en daar is nog baie jare se spel wat voor hulle lê. Die toekoms van tennis is ongetwyfeld in goeie hande.”

Djokovic sal poog om sy negende Australiese Ope-titel te wen wanneer die toernooi volgende week begin. Hy vertel dat dinge makliker vir ’n speler word sodra hy sy eerste groot titel ingepalm het.

“Ek weet hoe dit voel om jouself op die internasionale tennisverhoog te bewys. Dit amper soos om Everest uit te klim; totdat jy jou eerste Grand Slam gewen het. Sodra jy dit gedoen het, is daar ’n swaar las van jou skouers en jy kan ’n nuwe fase van jou loopbaan betree.

“Maar moenie te gerus wees nie. Ek, Roger en Rafa gaan ons bes doen om bo te bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.