Toernooi op sy kop soos top-spelers tuimel

Argieffoto van Novak Djokovic. Foto: Twitter.

In ’n veranderende wêreld klou ’n mens dikwels aan sekerhede vas. En een só ’n sekerheid is dat Rafael Nadal en Novak Djokovic hul tenniswedstryde sal wen.

Maar 2020 volg hoegenaamd nie die normaalkurwe nie en selfs op die tennisbaan is die natuurlike rangorde effens versteur.

Nadat Nadal Dinsdagaand in die ATP Finals-toernooi in Londen deur ’n vasberade Dominic Thiem oorrompel is, het Novak Djokovic ook gisteraand in die stof gebyt.

Die wêreld se voorste speler is in net meer as ’n uur en 20 minute deur Rusland se Daniil Medvedev van die baan gevee.

Die Rus het die tweestryd met 6-3 en 6-3 gewen om vir die halfeindstryd te kwalifiseer. Daarteenoor sal Djokovic môre in ’n maak-of-breek-stryd teen Alexander Zverev gewikkel wees.

“Genugtig, ek het sewe swak potte agtereenvolgens gespeel. Die telling was binne ’n japtrap 6-3 en toe 3-0 en daar bestaan geen twyfel dat Daniil die beter speler was nie,” het Djokovic ná die afloop van die wedstryd gesê.

Tog is dit nie die einde van die wêreld vir die Serwiese ster nie.

Jim Courier, ’n voormalige wêreld- no. 1-speler, glo dat Djokovic die uiteindelike wenner van die Grand Slam-stryd sal wees.

Nadal en Roger Federer het elk 20 titels agter hul name, terwyl Djokovic reeds 17 titels gewen het.

“Nadal het waarskynlik nog so twee of drie Grand Slam-titels in hom, terwyl Federer nog een kan wen. Daarteenoor kan Novak – afhangende van sy fiksheid – nog so vyf of ses groot toernooie wen,” het Courier gesê.

  • In vandag se ATP-aksie speel Thiem teen Andrey Rublev, terwyl Nadal teen Stefanos Tsitsipas sal kragte meet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Androclus ·

Toernooi op sy kop soos top-spelers tuimel.Daar is ‘n tyd vir alles,hulle moet plek maak vir jongeres ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.