Topspeler bevraagteken All Whites-naamsverandering

Nieu-Seeland se Vaughan Coveny vat vir Braslilië se Ronaldhino aan. Foto: Twitter.

Vaughan Coveny, een van Nieu-Seeland se beste sokkerspelers nog, sê dat hy nie verstaan waarom die land se sokkerbeheerliggaam (NZF) dalk aan die nasionale span se All Whites-bynaam wil karring nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die NZF dit oorweeg om die bynaam te skrap omdat dit dalk deur sommiges as nie inklusief genoeg bestempel word nie.

“Ek is iemand wat van tradisie hou; ek het jare vir die span gespeel en ek is verbaas dat hulle so iets wil doen. Eintlik gaan dit my verstand te bowe – gaan hulle dan ook die All Blacks se naam verander?” het Coveny in ’n onderhoud met die koerant Sydney Morning Herald gevra.

Coveny het 14 jaar vir Nieu-Seeland gespeel en hy het die meeste doele vir die land aangeteken. Foto: Martin Bureau/AFP.

Die naamsverandering is nog nie ’n uitgemaakte saak nie, maar volgens Andrew Pragnell (NZF se uitvoerende hoof) is die beheerliggaam “op ’n reis van kulturele inklusiwiteit”.

“As deel van ons volhoubaarheidsprojek wat verlede jaar van stapel gestuur is, is ons besig om met belanghebbendes na alle dele van die organisasie te kyk om seker te maak dat dit voldoende is vir 2021 en daarna,” het Pragnell gesê.

Die naam verwys na die span se wit kleredrag wat hulle vir die eerste keer in kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker-toernooi in 1982 gedra het en Coveny meen dat dit deel van Nieu-Seeland se sokkergeskiedenis is.

“Die All Whites was nog altyd Nieu-Seeland se sokkerspan. Dit was deel van ons grootwordjare en jy het daarna opgekyk.”

Volgens Pragnell is dit nog te vroeg om oor die uitslag van die proses kommentaar te lewer, maar sokker streef daarna om die mees inklusiewe sportsoort in die land te wees.

Jason Pine, die bekende sportkommentator, het die beplande naamsverandering as “absolute malligheid” bestempel.

  • Ander byname vir Nieu-Seeland se sportspanne: White Ferns (vrouekrieket), Black Caps (manskrieket), Black Sticks (hokkiespanne)  en Tall Blacks (basketbalspan).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrew ·

hahaha, gooi n paar meel bomme. Verkieslik “whole grain”.

Elinette ·

Ai tog ……….. die All Blacks is OK, maar moet tog nie iets koppel aan die kleur WIT nie, dan is jy polities inkorrek.

Harley Davidson ·

Ek wens die wêreld wil ophou met hul alewige polities korrektheid dit raak nou afgesaag en eentonig aan die een kant demokrasie en aan die ander kant politiese korrektheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.