Tour de France: Polisie ondersoek ongeluk; Van der Poel seëvier  

(Foto: Anne-Christine POUJOULAT/various sources/AFP)

Die Franse polisie is op soek na ooggetuies in hul ondersoek na die groot ongeluk in die eerste skof van die Tour de France.

Die ongeluk is veroorsaak deur ʼn toeskouer wat met ʼn plakkaat in die peloton se pad te staan gekom het.

Die vrou het met haar rug na die peloton gestaan waarna die Duitse jaer Tony Martin teen die plakkaat vasgery en sy balans verloor het. Talle fietsryers het hierna neergeploeg en die toeskouer het vinnig in die skare verdwyn.

Die Duitser Jasha Sütterlin moes hom weens ʼn besering onttrek. Agt ander jaers moes mediese behandeling ontvang. Die Italiaanse kampioen Sonny Colbrelli en die Nederlandse jaer Wout van Aert, wat albei ook neergeslaan het, was van die gunstelinge om die eerste skof te wen.

Die Fransman Julian Alaphilippe het uiteindelik die eerste skof gewen nadat daar nog ʼn ernstige ongeluk plaasgevind het.

Mathieu van der Poel. (Foto: Philippe LOPEZ/various sources/AFP)

Die Nederlander Mathieu van der Poel het Sondag die tweede skof gewen en is nou ook die nuwe draer van die geel trui.

Die 25-jarige Van der Poel is die kleinseun van die wyle Raymond Poulidor wat gereeld op die Tour de France-podium gestaan het en ʼn gunsteling onder Franse ondersteuners was al het hy nooit die geel trui gedra nie. Poulidor is in 2019 in die ouderdom van 83 dood.

Tadej Pogacar was tweede gevolg deur Primoz Roglic. Alaphilippe was Sondag vyfde en is nou algeheel tweede na Van der Poel.

Van der Poel is ʼn wêreldkampioen in cyclo-cross en een van die gunstelinge om goud te wen by die Olimpiese Spele in Tokio.

Die derde skof oor 182,9 km vind Maandag plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Belinda ·

sien, hulle het nie social distance gehad nie anders het hulle nie so opmekaar geval nie, lmga.

Pierre ·

Daar sal wel een of ander video greep wees dit sal interessant wees wat gaan die polisie maak, fietse en karre moet uitkyk vir voetganers?

Chantel ·

Ek dink nie die toeskouers besef met wat se spoed hierdie fietsryers ry nie en dat dit enige van hulle se lewens kan kos. Die toeskouers maak my soms boos namens hierdie fietsryers. Dis net dom om so op te tree en ek vermoed hierdie vrou gaan boet vir haar onnoselheid

Moedeloos ·

Ek stem. Enige sport deelnemer konsentreer op dit wat vir hom belangrik is, Alles wat voor, agter en rondom hom/haar aangaan is van minder belang. Veral fietsryers hou sleg die fietswiel voor hom dop want as hy vinnig moet stop kan hy dit nie doen nie. Toeskouers is hul eie vyande by sulke byeenkomste om onnodge risiko’s te waag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.