Tour de France: Vreugdevure brand hoog in Colombia

Egan Bernal (middel) raak emosioneel op die podium. Foto: (Stephane Mantey, Pool Photo via AP)

Die rekordboeke in vanjaar se Tour de France is Sondagaand in Parys herskryf toe die 22-jarige Colombiaan Egan Bernal (Team Ineos) as 2019 se kampioen gekroon is.

Bernal (22 jaar, ses maande en 15 dae) is die derde jongste wenner ooit na Henri Cornet (1904) wat 19 jaar, 11 maande en 19 dae oud was en Francois Faber (1909) wat 22 jaar, ses maande en ses dae oud was toe hulle ook die Tour gewen het.

Die oorwinning het in Bernal se skoot geval toe Vrydag se 19de skof verkort is voor ʼn aankomende haelstorm. Hy is as skofwenner aangewys nadat hy eerste by die bergpiek Col Íseran was. Hy het sodoende slegs die derde jaer van Colombia, naas Victor Perias (2003) en Fernando Gaviri, geword wat ʼn skof kon wen.

Bernal is ook die eerste Colombiaan wat die Tour kon wen.

Sondag se 21ste en laaste skof oor 128 kilometer tussen Rambouillet na die Champs-Élysées in Parys is deur die Aussie Caleb Ewan (Lotto Soudal) gewen, gevolg deur Dylan Groenewegen (Jumbo-Visams) en Niccolo Bonifazio (Total Direct Energie).

Bernal het 29ste geëindig, maar dit het geensins saak gemaak nie nadat hy deur sy span in watte toegedraai is.

Ondersteuners in Zipaquira in Colombia reageer op Bernal se oorwinning. Foto: (AP Photo/Ivan Valencia)

Bernal, wat ook die Tour se beste Jong Jaer was, is deur sy spanmaat Geraint Thomas in die algehele tweede plek gevolg, met die Nederlander Steven Kruiswijk (Jumbo-Visma) derde.

Thomas, wat verlede jaar nog vir Team Sky gejaag het voordat hulle uit fietsry getree het, het met sy algehele tweede plek die sewende ryer geword wat tweede in die Tour geëindig het die jaar nadat hy gewen het.

Die ander jaers voor hom was François Faber (1909-1910), Gino Bartali (1948-1949), Eddy Merckx (1974-1975), Bernard Hinault (1985-1986), Jan Ullrich (1997-1998) en Andy Schleck (2010-2011).

Slegte nuus vir Thomas is dat nie een van hulle weer die Tour kon wen nie.

Die Slowaak Peter Sagan (Bora-Hansgrohe) het die sewende keer die groentrui (punteafdeling) gewen en die Fransman Romain Bardet (AG2R La Mondiale) was die beste klimmer.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt was Daryl Impey (Mitchelton Scott) se sege in die negende skof die hoogtepunt.

Impey het algeheel 72ste geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.