Trane lê vlak toe Leclerc in België wen

Ferrari se Charles Leclerc van Monaco (middel) op die podium nadat hy die Belgiese Formule Een-Grand Prix gewen het. Links is Lewis Hamilton van Brittanje en regs Valtteri Bottas van Finland. (Foto: Francisco Seco/AP)

Die emosies het Sondagmiddag op Spa-Francorchamps in België nog baie vlak gelê toe die jong Fransman Charles Leclerc (Ferrari) die Belgiese Formule Een-Grand Prix gewen het.

Hy is gevolg deur Lewis Hamilton (Mercedes), Valtteri Bottas (Mercedes), Sebastian Vettel (Ferrari), Alex Albon (Red Bull) en Sergio Perez (Racing Point).

Voor die wedren het al die jaers, asook die F2- en F3-jaers, ʼn oomblik van stilte in ʼn kringetjie gehandhaaf ter ere van nog ʼn jong Fransman, Anthoine Hubert, wat Saterdagmiddag tydens die F2-wedren ná ʼn ongeluk gesterf het.

Maar soos hulle sê: die vertoning moes aangaan. Die jaers het saam besluit om Sondag voort te jaag, so moeilik as was dit ook al vir hulle was. Hulle het die wedren aan Hubert opgedra.

Leclerc was emosioneel toe hy met ʼn vlieënde Hamilton in sy truspieëltjie die geruite vlag ontvang het. “Is jy oukei?” het sy span oor die radio aan hom gevra.

Ferrari se Charles Leclerc van Monaco nadat hy die Belgiese Formule Een-Grand Prix gewen het. (Foto: Francisco Seco/AP)

“Ja, aan die een kant is dit ʼn droom sedert my kinderdae wat ʼn werklikheid geword het. Aan die ander kant was dit ʼn baie moeilike naweek,” het Leclerc saggies geantwoord.

Toe Leclerc die wentrofee ontvang het hy dit omhoog gehou. “Dié ene is vir Anthoine,” het hy gesê.

ʼn Mens besef nie aldag onder watter druk en spanning die jaers verkeer nie. Leclerc is maar net 21 jaar oud, ʼn jaar jonger as Hubert. Hulle was albei Franse, vriende en het dieselfde passie gedeel.

Vir die rekord: Hamilton het met sy tweede plek sy voorsprong bó Bottas tot 65 punte op die kampioenskapspunteleer gerek.

In die vervaardigersafdeling het Mercedes nou 471 punte teenoor Ferrari se 326.

Terwyl Leclerck die eerste keer op die podium gestaan het, was dit die 145ste keer dat Hamilton die takie verrig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.