Tsitsipas gee kleibaanmeesterles

Stefanos Tsitsipas slaan die bal met mening terug in Rome. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Dit het Stefanos Tsitsipas net 23 minute geneem om die eerste stel van sy Italiaanse Ope-wedstryd teen Alex de Minaur te beklink.

Die Griek het uiteindelik sy Rome-tweestryd teen die Australiër met 6-1 en 6-2 beklink.

“Ek het die bal so suiwer moontlik probeer slaan en dit het beslis gewerk. Daarbenewens is ek ook tevrede met die bestendigheid van my afslane en die akkuraatheid van my houe,” het die 25-jarige speler gesê.

Hy sal volgende – nogal in sy vierde agtereenvolgende Rome-kwarteindstryd – teen Nicolas Jarry van Chili te staan kom.

Tsitsipas moet ook een van die gunstelingspelers wees om later met die Franse Ope-titel weg te stap. Hy het vanjaar nog net twee kleibaanwedstryde verloor en hy het die silwerware in Monte Carlo omhoog gehou.

In die vroueafdeling het Iga Swiatek vir nog ʼn halfeindstryd gekwalifiseer toe sy vir Madison Keys met 6-1 en 6-3 geklop het.

Volgens Keys is Swiatek se flinke voetwerk haar sterkste punt in kleibaantoernooie.

“Sy beweeg beter as enige ander speler. Dit maak dinge baie moeilik vir haar teenstanders want sy kan so te sê by enige bal uitkom,” het die Amerikaner gesê.

Swiatek sal in die halfeindstryd teen Coco Gauff te staan kom.

Uitslae:

Coco Gauff klop Qinwen Zheng met 7-6 en 6-1

Iga Swiatek klop Madison Keys met 6-1 en 6-3

Stefanos Tsitsipas klop Alex de Minaur met 6-1 en 6-2

Tommy Paul klop Daniil Medvedev met 6-1 en 6-4

Hubert Hurkacz klop Sebastian Baez met 5-7, 7-6 en 6-4

Alexander Zverev klop Nuno Borges met 6-2 en 7-5

Taylor Fritz klop Grigor Dimitrov met 6-2, 6-7 en 6-1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.