Tsitsipas glo kampioenskapbloed bruis deur sy are

Stefanos Tsitsipas geniet deesdae sy tennis. Foto: Twitter.

Ondanks Stefanos Tsitsipas se nederlaag in die eindstryd van die Australiese Ope is hy steeds vasbeslote om eendag as die wêreld se voorste speler bekend te staan.

Die Griek – wat tans derde op die ATP-ranglys is – het Sondag met 6-3, 7-6 en 7-6 teen Novak Djokovic in Melbourne vasgeval. Dit was sy tweede eindstryd-nederlaag teen die Serwiese ster nadat hy vroeër ook in ʼn epiese stryd op Roland-Garros die onderspit gedelf het.

En net om ʼn bietjie verdere sout in die wonde te vryf: Djokovic het vier ranglysspronge gemaak om Carlos Alcaraz as die wêreldnommereenspeler te onttroon.

“Ek sal beslis harder moet werk om te sorg dat dit eendag gebeur. Ek het nou ʼn uitstekende geleentheid gehad om my stempel op die ranglys af te druk, maar my teenstander het dinge net soveel beter as ek op die baan gedoen,” het Tsitsipas gesê.

Hy is egter glad nie van plan om op te hou droom nie.

“Ek sien geen rede waarom ek nou my verwagtinge óf doelwitte moet aanpas nie. Ek is ʼn gebore kampioen; dit is iets wat binne my is.”

Intussen het die tenniskommentator Chris Bradnam hom aangemoedig om by Roger Federer te gaan kers opsteek as hy planne het om groot kampioenskappe te wen.

“Iemand soos Roger het prysgeld van meer as $23 miljoen op die baan gewen, dalk moet Stefanos by hom om raad aanklop – veral met die oog op sy houespel,” het Bradnam gesê.

Tog was John McEnroe in sy skik met die 24-jarige Griek se raketvaardighede.

“Veral sy voorhandhoue was ongelooflik en dit was van die grootste houe wat ek nóg gesien het. Hy het veral sy stem dik gemaak in een van die potte in die tweede stel teen Novak; ek het nog nooit gesien dat iemand se wenhoue só akkuraat is nie. Maar toe verloor hy uit die bloute net stoom,” het die Amerikaanse tennislegende gesê.

  • Jongste ATP-ranglys:
  1. Novak Djokovic
  2. Carlos Alcaraz
  3. Stefanos Tsitsipas
  4. Casper Ruud
  5. Andrey Rublev
  6. Rafael Nadal
  7. Felix Auger-Aliassime
  8. Taylor Fritz
  9. Holger Rune
  10. Hubert Hurkacz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.