Tsitsipas: ’n Terugveg-meester

Stefanos Tsitsipas laat waai in Parys. Foto: Twitter.

Stefanos Tsitsipas het gisteraand eers ’n ruk ná 00:30 gaan slaap nadat hy met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom het om vir Lorenzo Musetti met 5-7, 4-6, 6-2, 6-3 en 6-2 op Roland-Garros te klop.

Dit was die derde keer in twee jaar (die ander kere was teen Jaume Munar en Rafael Nadal) dat hy ’n agterstand van twee stelle moes uitwis om ’n wedstryd te wen.

“Dinge is nie altyd maklik op ’n tennisbaan nie en ek weier doodeenvoudig net om handdoek in te gooi. Wanneer ’n mens ’n agterstand van twee stelle trotseer, konsentreer jy nie soseer op die uitslag nie; jy veg net vir elke beskikbare punt,” het Tsitsipas gesê.

Die 23-jarige speler is een van Patrick Mouratoglou se gunstelingspelers om met die uiteindelike louere weg te stap.

Volgens die topafrigter is Tsitsipas deesdae ’n krag op kleibane en hy het juis sy Monte Carlo-titel suksesvol verdedig.

Terselfdertyd het hy verlede jaar vir Novak Djokovic tot die uiterste in die eindstryd van die Parys-toernooi getoets: Die wêreld se voorste speler kon toe eers ná vyf taai stelle die silwerware omhoog hou.

In ander Franse Ope-aksie het Daniil Medvedev maklik na die volgende ronde deugedring, maar die belowende Denis Shapovalov het sy rieme teen Holger Rune styfgeloop.

Die 19-jarige Rune het die wedstryd met 6-3, 6-1 en 7-6 gewen.

Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop Lorenzo Musetti met 5-7, 4-6, 6-2, 6-3 en 6-2

Gilles Simon klop Pablo Carreno Busta met 6-4, 6-4, 4-6, 1-6 en 6-4

Jannik Sinner klop Bjorn Fratangelo met 6-3, 6-2 en 6-3

Hubert Hurkacz klop Giulio Zeppieri met 7-5, 6-2 en 7-5

Hugo Gaston klop Alex de Minaur met 4-6, 6-2, 6-3, 0-6 en 7-6

Lorenzo Sonego klop Peter Gojowczyk met 6-2, 6-2 en 6-1

Andrey Rublev klop Kwon Soon-woo met 6-7, 6-3, 6-2 en 6-4

Casper Ruud klop Jo-Wilfried Tsonga met 6-7, 7-6, 6-2 en 7-6

Daniil Medvedev klop Facundo Bagnis met 6-2, 6-2 en 6-2

Holger Rune klop Denis Shapovalov met 6-3, 6-1 en 7-6

Aryna Sabalenka klop Chloé Paquet met 2-6, 6-3 en 6-4

Simona Halep klop Nastasja Schunk met 6-4, 1-6 en 6-1

Paula Badosa klop Fiona Ferro met 6-2 en 6-0

Jessica Pegula klop Wang Qiang met 6-4 en 6-2

Danielle Collins klop Viktoriya Tomova met 6-0 en 6-4

Karolina Pliskopva klop Tessah Andrianjafitrimo met 2-6, 6-3 en 6-1

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.