Tsitsipas sal slegs inenting kry as dit verpligtend is

Stefanos Tsitsipas vier ’n oorwinning. (Foto: Andy Wong, AP)

Die wêreld se derde beste tennisspeler, Griekeland se Stefanos Tsitsipas, het gesê dat hy slegs teen Covid-19 ingeënt sal word as dit verpligtend is om in toernooie te speel.

ATP-base moedig spelers aan om ingeënt te word, terwyl spelers soos Roger Federer en Rafael Nadal ten gunste van die entstof is.

“Die enigste manier om uit hierdie Covid-19-nagmerrie te ontsnap is die entstof en dit is ons verantwoordelikheid om dit te aanvaar,” het Nadal destyds gesê nadat sy oefenmaat, Daniil Medvedev, positief vir die virus getoets het.

Dan het een van die wêreld se voorste vrouetennisspelers, Victoria Azarenka, haar vroeër aan die Stuttgart-ope onttrek omdat die toernooi met haar geskeduleerde Covid-19-inenting bots.

“Ek sal ongelukkig nie in Stuttgart kan deelneem nie omdat ek dan my eerste dosis van die entstof ontvang. Ek wens die toernooi alle voorspoed toe en ek hoop om volgende jaar weer daar te speel,” het sy op sosiale media geskryf.

Victoria Azarenka. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Daarteenoor het Novak Djokovic al in onderhoude die hoop uitgespreek dat ’n inenting nie verpligtend vir spelers word nie en dat spelers die vryheid gegun moet word om die keuse vir hulself te maak.

“Ek wil nie gebrandmerk word as iemand wat vir of teen die entstof is nie en ek vra dat almal dit moet respekteer,” het Djokovic destyds gesê.

Volgens Tsitsipas is dit nog nie verpligtend vir tennisspelers om ingeënt te word nie.

“Ek sal seker een of ander tyd myself moet laat inent, maar dit is nie verpligtend nie en ek het dit nog nie gedoen nie,” het Tsitsipas gesê.

Vroeër het die Jamaikaanse naelloper Yohan Blake gesê dat hy ook nie sal toelaat dat hy teen  Covid-19 ingeënt word nie.

“Ek wil dit nie hê nie. Ek sal liewer die Olimpiese Spele misloop as om die entstof te neem. Ek wil nie verder daaroor uitbrei nie, maar daar is redes vir my besluit,” het Blake aan die Jamaikaanse media gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Ek ook – ek sal slegs die enting neem as dit wetlik verpligtend word.

Hendrik ·

Nee wat so demokraties en lojaal tot die staat is ek nou wraggies nie.

Hendrik Marthinus ·

Geld gaan hom nie teen die virus beskerm nie net die vaccine

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.