Tsitsipas sorg vir opskudding by Aussie Ope

Stefanos Tsitsipas. (Foto: William WEST/AFP)

Stefanos Tsitsipas het Woensdag by die Australiese Ope teruggeveg om Rafael Nadal uit te skakel nadat hy met twee stelle agter was.

Die Griek het met 3-6, 2-6, 7-6 (7/4), 6-4, 7-5 geseëvier en sodoende Nadal se poging om sy 21ste Grand Slam-tennistitel te verower in die wiele gery.

“Ek weet nie wat het ná die derde stel gebeur nie. Ek het soos ʼn klein voëltjie gevlieg en alles het net vir my gewerk,” het Tsitsipas gesê. “Die emosies aan die einde was onbeskryflik.”

Rafael Nadal en Stefanos Tsitsipas. (Foto: Paul CROCK/AFP)

Dit is slegs die tweede keer dat Nadal verloor wanneer hy twee stelle voor was in ʼn Grand Slam. Hy het in 2015 in die Amerikaanse Ope teen Fabio Fognini vasgeval.

Nadal (34) en Roger Federer het albei 20 Grand Slam-titels in die sakkie. Novak Djokovic het sy visier op ʼn 18de Grand Slam-titel.

Die vyfde gekeurde Tsitsipas sal nou poog om sy eerste Grand Slam te wen en kom in die halfeindstryd teen Daniil Medvedev te staan. Djokovic en Aslan Karatsev sal sake in die ander halfeindstryd uitspook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.