Tukkies maak soos hul rugbyboeties in Varsityhokkie-eindstryd

Tukkies vier hulle sege (Foto: Christiaan Kotze/SASPA)

Die Varsityhokkie-eindstryd tussen Maties en Tuks was ʼn spannende affêre, maar ná ʼn uur se hewige stryd van aanval en verdedig met een ietwat omstrede doel, het die span wat feitlik deurgaans oorheers het, gewen.

Tuks het Maties met 1-0 geklop, ʼn strafhoek wat van ʼn Matiespeler se stok hoog in die doelhok in die net ingeskiet het. Die doel is aanvanklik nie toegeken nie, maar Tukkies het die doel verwys. Volgens die reël hoef die bal nie die agterkant van die doelhok te tref as dit van ʼn teenstander se stok kom nie.

Met hierdie sege het Tukkies, soos hul rugbyboeties, ook die Varsitytitel teen die Wes-Kapenaars gewen.
Catherine Morris het die doel in die derde kwart aangeteken en Tukkies was toe met 1-0 voor, wat ook die eindtelling was.

Behalwe vir vyf minute aan die einde van die eerste kwart het Tukkies sterk op die aanval gebly, maar kon nét nie die bal in die doelhok kry nie. Maties het briljant verdedig maar kon eenvoudig nie uit hul gebied kom om aan te val nie.

Maties het twee strafhoeke en ʼn korthoek gehad, maar kon nie hond haaraf maak teen Tukkies se verdediging nie.
In die tweede helfte het die wedstryd op dieselfde trant voortgegaan: Tukkies val verbete aan en Maties moes verdedig.

In die derde kwart het Tukkies hulle eerste strafhoek gekry, maar die doelwagter Nicole la Fleur kon dit keer. Kort daarna, in die 43ste minuut, het ʼn strafhoek tot Tukkies se enigste doel gelei.

Die spanning het hoog geloop toe Maties, met net ses minute van die wedstryd oor, hulle twee minute kragspel aanvra, waar enige doele in die tyd dubbeld tel.

Tukkies moes toe twee spelers afstuur. Maties het hard geveg vir daardie doel, maar kon net nie deurdring nie.
Tukkies het ná afloop van Maties se kragspel hulle s’n opgeëis. Toe was die skoen aan die ander voet, maar geen verdere doele is aangeteken nie.

♦ Natalie Estevez van Tuks is as speler en verdediger van die wedstryd en Izelle Verster as speler van die toernooi aangewys. Nicole la Fleur was die doelwagter van die toernooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.