Tukkies-tweeling wil konings by nasionale toernooi laat tuimel

Waldi en Cornelius van der Linde. Foto: Reg Caldecott.

“Ja, jy moet fiks wees om skaak te speel,” sê Tukkies se pion-skuiwende duo van Cornelius en Waldi van der Linde. En dié tweeling behoort te weet waarvan hulle praat – hulle sal immers sleutelrolle vertolk in die Universiteit van Pretoria se poging om vir die derde agtereenvolgende jaar as USSA se skaakkampioenspan gekroon te word.

“Ek sou sê dat jou gemiddelde sofapokkel vir ongeveer 90% van die wedstryd sy man sal kan staan, maar ongelukkig is dit die einde van die spel wat deurslaggewend is om die wenner te bepaal,” het Cornelius gesê.

’n Goeie skaakwedstryd kan selfs langer as vyf uur duur.

Dié twee is rekenaaringenieurstudente en vertel dat hulle in hul jonger dae skaak teen die rekenaar gespeel het.

“Ons het op weeksdae vroeër opgestaan sodat ons ten minste een skaakwedstryd kon speel voordat ons skool toe gaan. Ons hoofdoelwit was om die rekenaar uit te oorlê. Hierdie tweestryde was só warm dat ons pa ekstra waaiers moes aanskaf om die rekenaar af te koel.”

Volgens Waldi geniet hy skaak die meeste omdat die sport hom die geleentheid bied om sy teenstander uit te oorlê; om as’t ware altyd een stap voor hom te wees.

“Jy moet amper kan voorspel wat jou teenstander se volgende skuif sal wees.”

En anderste as wat die karakters in Ballade vir ’n Enkeling sê, moet jy éérs dink, vóór jy doen.

“As jy eers die stuk geskuif het, kan jy nie jou besluit herroep nie. In skaak dra jy beslis die gevolge van jou besluite.”

En nes in rugby en krieket help dit ook om jou teenstander se spel vooraf te bestudeer.

“Ek het agtergekom dat jy sommige spelers effens kan ontsenu as jy ’n spesifieke skuif maak. Maar jy sal net oor dié wapen beskik as jy vooraf jou huiswerk gedoen het.”

En die Van der Linde-duo sal beslis hul huiswerk vir die komende toernooi gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dick Birkill ·

Sterkte vir die twee skaak tukkies toegewens hier van ‘n koue Kanada

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.