Twee Suid-Afrikaners uit Tour de France

Ben O’Connor. (Foto: Philippe LOPEZ/AFP)

Twee Suid-Afrikaanse fietsryers sal nie die ysige koue weer in die Alpe gou vergeet nie.

Dit het daarvoor gesorg dat Stefan de Bod en Nic Dlamini nie die afsnytyd in die Tour de France kon haal nie en hulle sal die res van die toer op die televisie moet volg.

De Bod het op Twitter ʼn video gedeel waar ʼn vrou vir hom ʼn kussing bring om hom gemaklik te maak nadat hy neergeslaan het. Hy het geskryf dis die soort ondersteuners van wie hy hou, eerder as diegene wat in die pad van die ryers beweeg.

Dlamini het ook vroeg in die negende skof geval, maar nie die maklike uitweg gevolg om in een van die ondersteuningsmotors te klim en bes te gee nie. Hy het opgestaan en verder gery.

Hy het onder toejuiging 40 minute ná die afsnytyd oor die eindstreep in Tignes gery. Dit was sowat 80 minute nadat die skofwenner oor die eindstreep gery het.

Louis Meintjes is die enigste Suid-Afrikaner wat nog deel is van die 165 fietsryers wat aan die toer deelneem. Hy beklee die algehele 33ste plek – 15 minute en 33 sekondes agter die voorloper.

Die negende skof is deur die Australiër Ben O’Connor gewen. Hy is nou in die algehele tweede plek.

Dit het in ʼn stadium gelyk of O’Connor die geel trui by die Sloween Tadej Pogacar sou oorneem. Hy het egter sy pas versnel aan die einde van die skof en verseker dat hy steeds net meer as twee minute voor O’Connor bly.

Maandag is ʼn rusdag vir die ryers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gpsa ·

Trots op Louis Meintjes. Hy doen besonders goed. baie sterkte vir hom en wens ons kan meer van hom hoor. Ek dink Pogacar gaan die toer wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.