Twee Switserse mans en twee VSA-vroue reeds in halfeind

Roger Federer. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Roger Federer. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Twee Switserse mans en twee Amerikaanse vroue het Dinsdag reeds na die halfeindronde van die Australiese Ope in Melbourne deurgedring. Nog twee kwarteindwedstryde in albei afdelings word Woensdag gespeel.

Roger Federer, steeds die wêreld se gunstelingspeler, het Dinsdag sy mans-kwarteind, teen Mischa Zverev, in drie stelle gewen en Stan Wawrinka het vir Jo-Wilfried Tsonga uitgeskakel.

Venus Williams het Anastasia Pavlyuchenkova geklop en CoCo Vanderweghe het teen Garbiñe Muguruza haar plek in die vroue-halfeind bespreek.

♦  Zverev, wat die eerste gekeurde Andy Murray Maandag met die kous oor die kop huis toe gestuur het, het baie onseker begin. Na net 19 minute was die eerste stel verby: 6-1 vir Federer.

Die tweede stel het vir heelwat aanskoulike tennis gesorg. Zverev se taktiek, om net toe te storm, was dié keer minder effektief as teen Murray, maar hy het tog vir Federer deeglik getoets.

Zverev het in ʼn stadium agt punte na mekaar ingepalm, maar die uitgeslape Federer het tog dié stel 7-5  gewen.

Zverev het in die derde stel aanhou veg, maar Federer was deurgaans in beheer en het 6-1, 7-5, 6-2 gewen.

Zverev, wat 50ste op die wêreldranglys voor die toernooi was, sal sy posisie met sy vertoning by die Ope aansienlik verbeter.

♦  Stan Wawrinka het sy wedstryd teen Jo-Wilfried Tsonga redelik gerieflik gewen (7-6, 6-4, 6-3). Die twee het in ʼn stadium kwaai woorde gewissel. Wawrinka sal sy ou vriend én vyand en ook landgenoot, Federer, in die halfeindstryd ontmoet.

Venus Williams. Foto: (AP Photo/Kin Cheung)

Venus Williams. Foto: (AP Photo/Kin Cheung)

♦ Venus Williams het haar wedstryd teen Anastasia Pavlyuchenkova 6-4 en 7-6 gewen. Dit was nie eintlik ʼn verrassing nie, aangesien Williams dertiende op die toernooi se ranglys is, teenoor die 24ste plek van Pavlyuchenkova.

Venus kon haar vreugde na die wedstryd nouliks beteuel, aangesien dit die eerste keer in 14 jaar is wat sy weer die halfeindronde in dié toernooi haal. Sy is ook op 36 jaar die oudste vrouespeler nóg wat dié ronde haal.

♦  Wat wel verrassend was, was die ongekeurde Amerikaner CoCo Vanderweghe se oorwinning oor die sewende gekeurde Spanjaard, Garbiñe Muguruza. Die telling was 6-4, 6-0.

Vanderweghe het ʼn byna foutlose tweede stel gespeel, nege uit nege punte op haar eerste afslaan gewen en die Franse Ope-kampioen van die baan af gevee. Vanderweghe het die eerste gekeurde Angelique Kerber in die vierde ronde uitgeskakel.

Dit is die eerste keer in haar loopbaan dat Vanderweghe tot die laaste vier van ʼn ‘Grand Slam’ vorder. Sy sal haar landgenoot, Venus Williams, in die halfeind ontmoet.

Woensdag se kwarteindwedstryde –

Vroue
Karolina Pliskova (5) (Tsjeggië) teen Mirjana Lucic-Baroni (Kroasië); Johanna Konta (9) (Brittanje) teen Serena Williams (2) (VSA)

Mans

David Goffin (11) (België) teen Grigor Dimitrov (15) (Bulgarye); Rafael Nadal (9) (Spanje) teen Milos Raonic (3) (Kanada).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.