Die Formule Een Grand Prix van Azerbaidjan word Sondag in Bakoe gejaag. Hierdie sal die vierde wedren van die seisoen wees. Dit is dieselfde baan waar die twee voorlopers op die punteleer, Sebastian Vettel en Lewis Hamilton, verlede jaar teen mekaar gebots het tydens ʼn hewige tweestryd.
Verlede jaar se straatren in Bakoe is deur Daniel Ricciardo (Red Bull) gewen. Valtteri Bottas was tweede (Mercedes) met Vettel vierde en Hamilton vyfde.
Vettel (Ferrari) het vanjaar reeds twee oorwinnings agter die blad terwyl Hamilton (Mercedes) op soek is na sy eerste oorwinning. Die groot vraag is: Wat leer mens uit die laaste Grand Prix in China? Was dit dalk die ommekeer vir Red Bull wat hul stem behoorlik dik gemaak het? Die wedren is juis deur Red Bull se Daniel Ricciardo gewen, met Lewis Hamilton (Mercedes) vierde en Sebastian Vettel (Ferrari) wat net agtste kon eindig.
Kortom, dis Vettel teen Hamilton terwyl Red Bull nou ernstig dreig om met die kroon in Bakoe weg te stap.
Sebastian Vettel is ná drie wedrenne met nege punte voor Lewis Hamilton op die punteleer. Die punteverskil tussen die topvier-renjaers is net 17 punte.
Pos | Renjaer | Span | Punte |
1 | Sebastian Vettel | Ferrari | 54 |
2 | Lewis Hamilton | Mercedes GP | 45 |
3 | Valtteri Bottas | Mercedes GP | 40 |
4 | Daniel Ricciardo | Red Bull | 37 |
5 | Kimi Raikkonen | Ferrari | 30 |
6 | Fernando Alonso | McLaren | 22 |
7 | Nico Hulkenberg | Renault | 22 |
Die eerste oefenrondes word Vrydag gejaag terwyl die kwalifisering vir die wegspringrooster Saterdag afgehandel word. Gaan dit Ferrari, Mercedes of Red Bull se naweek wees?
Die hoofwedren begin Sondagmiddag net ná twee uur Suid-Afrikaanse tyd.