Tye om die CrossFit Spele te volg

Mat Fraser en Tia-Clair Toomey. Foto: Twitter.

Die laaste deel van die 2020 CrossFit Spele word hierdie naweek op Dave Castro se plaas in Aromas, Kalifornië, aangebied. En hoewel die wêreldwye Covid-19-pandemie ook die beplanning van die gewilde fiksheidskouspel kwaai in die wiele gery het, wag daar steeds hope aksie op liefhebbers van die sport.

Die pandemie het gesorg dat die Spele ’n splinternuwe baadjie moes aantrek: ’n Aanlyn kompetisie van sewe oefensessies het onlangs tot ’n einde gekom en die vyf beste mans en vroue het na die volgende ronde van die Spele – wat Vrydag begin – aanbeweeg.

Oudergewoonte lyk dit weer eens of Mat Fraser met die louere in die mansafdeling sal wegstap.

Die 30-jarige Amerikaner was in ’n klas van sy eie en het amper 200 meer punte as Noah Ohlsen in die tweede plek. Om hierdie prestasie in perspektief te plaas – Ohlsen het verlede jaar gesorg dat Fraser maar klippe by die Spele gekou het.

Haley Adams. Foto: Twitter.

Fraser het die “Friendly Fran”-uitdaging in ’n tyd van 3:08 minute voltooi. Ja, sy poging sou vir hom ’n sewende plek in iets soortgelyks by die 2012-Spele besorg het, maar hy moes amper 40% harder – te danke aan swaarder gewigte en meer optrekke – as die atlete van agt jaar gelede gewerk het.

Ja, Vrydag gaan elke atleet op ’n skoon bladsy begin, maar daar is ’n eenvoudige antwoord op die vraag of Ohlsen, Justin Medeiros, Samuel Kwant en Jeffrey Adler genoeg fiksheidskietgoed gaan hê om Fraser te onttroon: Nee.

In die vroue-afdeling is Australië se Tia-Clair Toomey weer eens die gunsteling, maar Katrin Davidsdottir en Haley Adams kan kwaai teenstand bied.

Maar met ’n tydsverskil van nege uur tussen Kalifornië en Suid-Afrika sal jy paraat moet wees as jy die aksie wil volg – jy sal óf laat moet gaan slaap óf vroeg opstaan.

Tye (word onder meer op die Spele se YouTube-kanaal uitgesaai):

  • Vrydag (23 Oktober):

Sessie I: 17:00

Sessie II: 20:30

Sessie III: 23:00

Sessie IV: 01:00

  • Saterdag (24 Oktober):

Sessie I: 19:00

Sessie II: 22:20

Sessie III: 01:00

  • Sondag (25 Oktober):

Sessie I: 19:00

Sessie II: 21:00

Sessie III: 00:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae